Burgerlike deelname moet kompliment kry

Dr. Dennis Farrell, Garden Route First, skryf:

Die George-munisipaliteit se pas gepubliseerde voorgestelde elektrisiteitstariewe dui aan dat die tariefverhoging verminder is en in teenstelling is met die onlangse gepubliseerde brief van die burgemeester, Browen Johnson, waarin hy Nersa aangevat het oor 'n 10,5%-verhoging. Soos ek voorheen gesê het, dit was 'n rookskerm.

Die vraag moet gevra word, waar kom die 10,5% vandaan? Hoekom is dit so aan die publiek gekommunikeer? Die tarief wat nou aangedui word, is 9,01%.

Ek glo al die mense wat kapsie gemaak het teen die elektrisiteitstariewe moet komplimente kry vir hul burgerlike deelname in hierdie proses - hulle stem het gesorg dat die verandering aangebring is.

Ons sal kyk wanneer die finale syfers en die begroting beskikbaar raak of dit werklik is teenoor die syfers wat nou deur die munisipaliteit deurgegee is.

Ons benodig bevestiging dat die Electrical Supply Costs-tariewe nie deur die munisipaliteit bo-op die 7,88% geïmplementeer gaan word nie. Die 7,88% is gebaseer op die oorspronklike 2024/2025-begroting.