GROOT-BRAK NUUS - Twee Afrikaanse skrywers, wat mekaar uitvra oor hul onderskeie benaderings met die skryf van verhale, was die insiggewende aanbieding tydens die onlangse byeenkoms van die Groot-Brak-leeskring.
Die boeke wat ter sprake was is die boek Roulette van Sidney Gilroy asook die boeke Donkermaan en Sekelmaan deur Jaco Wolmarans.
Roulette, wat pas verskyn het, handel oor ’n verdwene suster van drielingbroers met uiteenlopende persoonlikhede en die oplossing van die raaisel na 21 jaar deur ’n speurder.
Konflikte tussen Israel en Hezbollah gedurende 1961 asook die huidige oorlog in Gasa en die rol wat Suid-Afrikaners daarin speel bied die agtergrond vir Wolmarans se verhale.
Beide skrywers het nie veel van die inhoud van die verhale verklap nie, maar breedvoerig uitgewei oor hul uiteenlopende werkwyses met hul skryfwerk asook die omstandighede wat met die uiteindelike publisering van ’n boek gepaard gaan.
Die volgende byeenkoms van die leeskring, waar die gevierde aktrise Sandra Prinsloo die gas sal wees, beloof om nog ’n hoogtepunt te wees.
Dit sal ook die laaste byeenkoms vir die jaar wees en word op 13 November om 10:00 in die kerksaal van die NG gemeente in Groot-Brakrivier gehou.
Aanstaande jaar hervat die byeenkomste van die leeskring op 12 Februarie met die teenwoordigheid van Julio Agrella.
Navrae oor die leeskring kan gerig word aan Etty Bosman. Kontak haar by 083 501 0845. - John Fourie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’