In Susanna van Biljon speel Karen Zoid en David Rees die romantiese hoofrolle.
Susanna van Biljon is ‘n genotvolle fliek met pragtonele opgeneem in Uniondale en Oudtshoorn.
Die musiek is meesleurend en die toneelspel puik en oortuigend. Frans Marx se nuutse fliek het ‘n bietjie van als: humor, passie en melodrama. Die storie is eenvoudig. Karen Zoid maak haar filmdebuut as Rebecca Dreyer, ‘n middeljarige vrou wie se droom dit is om ‘n suksesvolle sangeres te word. Haar lewe is in ‘n groef. Sy werk in ‘n kafee terwyl sy droom oor ‘n blink toekoms ver weg van haar klein tuisdorp.
Daar is baie struikelblokke en sy moet moeilike keuses in haar lewe maak; dus ‘n universele tema waarmee Suid-Afrikaanse gehore hulleself maklik sal kan identifiseer.
Sommige binneshuise tonele was amper ‘n bietjie te donker (sekerlik bedoel om atmosfeer te skep).
Die geliefde veteraanaktrise Marié du Toit was op haar formiddabele stukke as die dominerende moeder; so ook Wilna Snyman as die dorp se skindertannie.
‘n Sterbelaaide rolverdeling sluit in David Rees (Egoli-ster) as die wewenaarboer (Dirk) wat sy hart op Rebecca verloor het. Hy speel die rol met ‘n intensiteit en opregtheid. Tydens sy onderhoud met die George Herald het hy gebieg dat tydens verfilming van rolprente daar dikwels verhoudings opvlam tussen die hoofkarakters. Wie weet, dalk het daar ‘n vonk plaasgevind. Hy wat David is, is ‘n enkelloper en Karen Zoid is vroeër vanjaar van haar man geskei.
Ander kunstenaars wat vlugtig verskyn, is Kurt Darren, Nicholis Louw, Jakkie Louw, Elizma Theron, Nianell, Romanz en Rina Hugo. Astrante Jo-ann (Shaleen Surtie-Richards) en Nico Panagio as die geslepe musiekpromotor.
Die draaiboekskrywer Christo Compion kon Rebecca se karakter meer uitgerond het. Sy steek soms vaal af teen die vasberade, kleurvolle Amanda (Anna Davel), ‘n opgetofde, geskeide eienares van ‘n antiekwinkel op die dorp wat besluit het dat Dirk die regte man vir haar is.
Haar deursigtige pogings om hom te vang het vir humor gesorg. Nog ‘n humoristiese moment was toe die outyds geklede Rebecca noodgedwonge haar lyf moes roer in ‘n rock-nommer wat sy sing by ‘n oudisie.
Vir my was Nianell se Barcelona so fenomenaal dat dit amper die liedjie, Want as ek droom gesing deur Karen Zoid oortref het - besluit maar self. Die film, Marx se 40ste, is beslis goeie vermaak en met ‘n hele paar amusante oomblikke wat ‘n gelag laat opklink het onder die gehoor.
Resensie deur Pauline Lourens
Foto: Tanya Watson
Posted on: 12:34 Wed, 29 September 2010
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: