GEORGE NUUS - George se skolekoorfees Cantamus! skop hierdie naweek vir derde keer af.
Die stad George staan reg om ‘n duisend koorsangers van 15 skole vanuit die land hierdie naweek by die George-burgersentrum te ontvang.
Die besondere fees word deur Suid-Kaap Sporttoere, in samewerking met die Suid-Kaap Musiek Akademie en die George-munisipaliteit aangebied, as deel van kultuurtoerisme-ontwikkeling in die streek.
Deelnemende kore sluit hoërskole vanuit:
• Kempton Park
• Eldoraigne,
• La Rochelle,
• Duineveld,
• Colesberg,
• Collegiate Girls High,
• Riebeek College,
• Hermanus,
• Noord-Kaap,
• Kimberley Boys’ High,
• Clifton,
• Creston College,
• Clarendon Primary,
• Stellenbosch,
• Eikekoor
Die koorfees neem 'n aanvang vanaand 10 Augustus in die George-burgersentrum met ‘n fotosessie, vlagparade en openingseremonie af. Deelnemende kore sal ‘n big brag geleentheid kry om na mekaar te luister en te spog met hul sang voor die kompetisie.
Die publiek kan hierdie openingskonsert om 19.00 gratis bywoon.
Vrydagaand 11 Augustus om 19:00 sal gekeurde deelnemers in die NG Kerk Denneoord ‘n openbare konsert aanbied.
Kampioenkoor
Die alombekende Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, sal as gaskoor optree. Kaartjies is R60 per persoon en R30 vir kinders en pensionarisse, en sal by die deur beskikbaar wees.
Die kompetisie vind Saterdagmiddag 12 Augustus vanaf 13:00 tot 17:00 in die George-burgersentrum plaas. Elke uur sal ‘n ander kategorie deur vier uitgelese koorkenners beoordeel word. Kaartjies is R30 per persoon vir die kompetisie, en is by die burgersentrum-ingang beskikbaar.
Die pryswennerskonsert vind Saterdagaand 12 Augustus om 18.00 by die Burgersentrum plaas, waarna ‘n onthaal vir koorbeamptes en ‘n verbroederings-partytjie vir koorlede aangebied sal word.
Op Sondag 13 Augustus sal besoekende kore die geleentheid kry om in die eredienste van vooraanstaande gemeentes in George te sing, waarna hulle die lang pad huis toe sal aanpak.
Navrae ten opsigte van die naweek kan aan Mimi Haasbroek by 082 585 0632 gerig word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'