GEORGE NUUS - Het jy onlangs iemand hoor sê: "Tog jammer dat niemand meer ons ou Afrikaanse liedere sing nie!"
Nie waar nie!
Op Saterdag 7 Desember om 10:00 kan jy kom luister na 'n sangkonsert deur Karen Temmingh in die Moederkerk.
Die program bestaan uit slegs Afrikaanse liedere – 'n vooruit-bewusmaking van die viering volgende jaar van Afrikaans se amptelike gelykstelling met Engels en Hollands deur die SA Parlement van 1925.
Skitter-oë verwys na die onderwerpe van die liedere op die program – onderwerpe wat 'ons oë laat skitter': ons Skepper, ons taal, land, natuur en ons geliefdes.
Bekende liedere soos O boereplaas, Heimwee, Lamtietie-damtietie en In die stilte van my tuin kan gehoor word, asook pragtige minder bekende liedere en 'n groot bonus: 'n splinternuwe komposisie van Chris Lamprecht.
Karen word bygestaan deur Kaléne Roux (klavier) en Ria Strydom (leser). Die drie kunstenaars is almal goed bekend in die gemeenskap van George.
Die konsert word aangebied ten bate van Die Byekorf, ACVV-dienssentrum. Donasies kan kontant, per kaart of debietorder geskied.
Dienssentrums en ander instansies se subsidies is geweldig ingekort en almal is baie afhanklik van donasies van die privaatsektor om hul goeie werk te kan voortsit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’