VERMAAK NUUS - Die plaaslike sanggroep, Sing4, tree op Saterdag 8 November om 18:00 en Sondag 9 November om 15:00 op by die Market Community Theatre in Markstraat, as voorprogram vir die bekende teateregpaar, Petru Wessels en Carel Trichardt, se gewilde Kersproduksie, Kersklanke.
Dit is ’n hartroerende aanbieding wat stories vertel oor die Christusfees. Bekende skrywers soos Dana Snyman, Riana Scheepers, Esta Steyn en Eitemal se verhale kry lewe in hul aanbieding.
Vertellings sluit in stories soos dié van Jaffie, die eseltjie, ’n meisie wat graag met haar ma in die hemel wil praat, kleuters wat ’n Kersspel opvoer, en Kleintjie Kruger wat ’n ryloper oplaai en ’n besondere Kersboodskap ontvang.
Die produksie het sy oorsprong in die vroeë negentigerjare in Die Teaterhuisie in Pretoria, maar besoek steeds jaarliks gehore in Pretoria gedurende die feesseisoen.
Sing4, bestaande uit Julie McFadden (sopraan), Jaconett Brink (alt), André Botha (tenoor) en Paul Hoffman (bas), betower gehore met hul tydlose, klassieke en volksgeïnspireerde melodieë en opheffende Christelike liedere.
Hulle het ’n unieke klank en hul uitvoerings bied ’n wonderlike musikale ervaring. Die groep word begelei op kitaar of klavier. Vir Sing4 is musiek ’n manier om stories te vertel, mense bymekaar te bring en brûe te bou tussen geslagte.
Elke lid bring sy of haar eie persoonlikheid en toon na die groep, en saam vorm hulle ’n kwartet wat luisteraars met ’n glimlag laat huis toe gaan.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets en Pick n Pay teen R150 per persoon, en R130 vir pensioenarisse, kinders en blokbesprekings van tien of meer.
Petru Wessels en Carel Trigardt
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’