Titley het verlede jaar 'n werksessie by die Absa KKNK aangebied waar hy plaaslike mense geleer het om lewensgroot volstruise met politeen te maak. Vanjaar is Samantha Oormeyer (18) en Shahieda Jansen (30), genooi om saam met Titley 'n werkswinkel by Maboneng aan te bied.
Titley sê dit was vir hom wonderlik om weer die vroue, wat gebaat het by die Absa KKNK se werkswinkels, te kon gebruik. "Hulle was die beste twee, en toe ons genader is om aan Maboneng deel te neem, het ek nie gehuiwer om hulle te betrek nie." Titley is bekend vir die tv-advertensie van 'n vlieënde volstruis vir 'n selfoonreus.
Jansen sê die mense van Gugulethu het hulself gate uit geniet met die volstruise. "Ons het hulle verskeie tegnieke geleer hoe om die volstruise te manipuleer, maar hulle was net geïnteresseerd in die danspassies." Die volstruise het onder begeleiding van 'n musiekgroep van Dysselsdorp 'gedans'.
Volgens Jansen wens sy daar is meer geleenthede om die volstruise aan die buitewêreld bloot te stel en om mense die kunsies te leer. "Ek en Samantha wil die Absa KKNK en Roger Titley bedank omdat hulle dit vir ons moontlik gemaak het om die vaardighede aan te leer."
Titley sê op sy beurt Jansen en Oormeyer verdien die geleentheid om hul vaardighede wyer uit te stal. "As hulle die regte geleenthede kry, kan hulle dit vêr bring, want hulle het natuurlike talent."
Siphiwe Ngwenya, organiseerder van Maboneng, sê Jansen en Oormeyer, tesame met die volstruise, het waarde tot die fees toegevoeg. "Dit was goed om die 'township' met die Karoo te vermeng en die feesgangers het dit geniet."

Die Gugulethu-kinders het groot pret gehad met die volstruise wat gemaak is tydens 'n werkswinkel wat deur Roger Titley van Wildernis gehou is.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'