GEORGE NUUS - Twee dae voor Goeie Vrydag, wanneer die Christendom die lyding en sterwe van Jesus Christus herdenk, vind daar 'n baie besonderse aanbieding in die NG Moederkerk as deel van die 2022 Herfsreeks- etensuurkonserte plaas.
Die Musica Amici-koor onder leiding van Dalene Brits, sing 'n reeks liedere wat oor hierdie onderwerp handel.
Die komponis is die gevierde Chris Lamprecht wat die inhoud met groot kundigheid en innigheid musikaal weergee.
Die program begin met 'n orrel- en klavierduet deur Dalene Brits en Gerrit Jordaan en die koor sing die saligsprekinge van Jesus, waarvan die teks direk uit die Bybel kom.
Die gebeure by Golgota word in kort stukke verhaal en die aanbieding sluit af met 'n jubelende In U is vreugde.
Die konsert begin om 13:10. Toegang is gratis, donasies welkom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'