GEORGE NUUS - Die bariton en sangafrigter Danie Verster, is die kunstenaar by die etensuurkonsert op 19 Maart, waar hy Duitse liedere van onder andere Schumann, Schubert en H Wolf gaan sing. Hy word begelei deur ons eie Dalene Brits.
Die oorspronklike kunstenaar vir hierdie konsert moes ongelukkig onttrek en Verster het op kort kennisgewing ingestem om sy plek te neem.
Verster het as tiener al sangopleiding by Dawie Couzyn van die Pretoria Operaskool ontvang en studeer onder Joyce Barker by Wits.
Daarna het hy aan Freiburg Muzik Hochschule studeer en vir sewe jaar ’n permanente pos by die Freiburg Stadt Theater in Duitsland beklee.
Terug in Suid-Afrika tree hy sedert 1997 gereeld plaaslik asook in buurlande in operas op. Deur die loop van sy loopbaan sing hy gereeld die rol van Germont in La Traviata (Verdi), asook in Die Huwelik van Figaro.
Hy was tot einde 2022 sangdosent by musiekdepartemente van Hoërskool Wonderboom, Menlopark Hoërskool en Curro Silver Lakes.
Deesdae woon hy in Prins Albert en is baie betrokke by die beoordeling van sang, onder andere by die Garden Route-eisteddfod in George en die Pretoriase-eisteddfod.
Die etensuurkonserte vind tussen 13:00 en 14:00 op Woensdae by die NG Moederkerk plaas. Toegang is gratis, maar donasies is welkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’