GEORGE NUUS - George se gospelsanger en verhoog-persoonlikheid, Gregory Noble, is kinderlik opgewonde oor die derde seisoen van Gospel met Gregory wat Sondae om 12:30 op DStv-kanaal 263 uitgesaai word.
"Ons dank die Here vir Season 3!" het Noble gesê. "Ons het 'n nuwe tydslot en al ag episodes is opgeneem." Volgens Noble is die program opgekikker met 'n nuwe segment - In the Field.
"Dis 'n brand new look, brand new feel, brand new signature. Ek moet nog vyf episodes in die Kaap gaan skiet. Dit is 'n opwindende reeks met boeiende stories wat regtig mense se harte gaan raak en hul lewens gaan verander."
Gospel met Gregory is 'n geestelike program wat inspireer en motiveer met interessante stories oor mense se lewens en Gospel-kunstenaars. Sy gas vir komende Sondag 7 Mei is die profeet Julian Claassen en die motiveringspreker en pastoor, Susan de Villiers.
"Elke storie is so uniek en ek leer so baie. Die lewe is kort. Leef in die oomblik en met volle oorgawe - leef jou passie uit," het Noble gesê. "Dit was nie 'n maklike pad vir my nie, maar die swaar tye het my karakter gevorm en ek is 'n sterker persoon. Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag gee."
Noble het gesê hy is bly dat sy ouers sy sukses saam met hom kan beleef.
"Dit is so 'n voorreg om hulle te kan versorg. Dit is elke dag 'n liefdestaak. Aanhouer wen. Daar is geen verskonings om nie jou drome te bewaarheid nie. Met harde werk en toewyding kom sukses. Jy moet glo in jouself en op God se tyd sal dit in plek val."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’