Gallery
VERMAAK NUUS - 'n Fees van kwiltwerk uit die boonste rakke kan tot 7 Augustus by die Sayers-saal van die George-museum besigtig word. Die Outeniqua-kwiltersgilde het verlede Woensdag, 23 Julie, die amptelike opening van hul tweejaarlikse kwiltuitstalling hier geopen.
Ongeveer 150 items word uitgestal in afdelings vir tradisionele, abstrakte, beeldende en moderne skeppings. 'n Pragtige bedkwilt getiteld Golden Protea van Amanda Strauss is aangewys as die Beste op Skou.
Die gilde se lede kom van oor die Tuinroete en daar is dus inskrywings uit die hele streek.
Die hoofuitstalling word aangevul deur twee nasionale uitstallings: 'n Versameling van kleiner kwilts met 'n wyntema, wat aangebied word in samewerking met die Montpellier-wynlandgoed, asook 'n reisende uitstalling van uitgesoekte klein kwilts van die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde.
Volgens Antoinette Kriel, president van die SA Kwiltersgilde wat ook die opening bygewoon het, is die standaard van kwiltwerk in Suid-Afrika baie hoog.
'A Gaggle' is geskep deur Minda du Plessis.
"Ons het onlangs begin inskakel by die Quilters' Guild of the British Isles en neem deel aan internasionale Zoom-werksessies. Ons het besef dat ons baie goed kers vashou met hulle standaard. Ons ontmoet kwilters van oor die wêreld en leer baie. Dis regtig opwindend."
Ina Meyer, voorsitter van die Outeniqua-gilde, is een van die Suid-Afrikaners wat nou internasionaal aan kompetisies begin deelneem het. Sy het onlangs 'n inskrywing vir die Birmingham Festival of Quilts gestuur. Dit vind in Augustus plaas.
Meyer sê die Outeniqua-gilde se ledetal het met rasse skrede tot op 153 lede gegroei.
GALERY: Kwiltuitstalling 'n viering van kreatiwiteit met lap.
Marian Viljoen by 'n kwiltdeken wat sy vir haar skoonma gemaak het en wat deur die beoordelaar Odett Tolksdorf as een van twee beoordelaarskeuses op skou aangewys is.
"Ons gilde vier volgende jaar 40 jaar en ons sien uit na 'n opwindende jaar met verskeie projekte wat ons gaan aanpak. Die gilde ploeg deurgaans terug in die gemeenskap. Ons het nou ook begin om klasse aan te bied."
Die wenners van die onderskeie afdelings is Anita Blignaut (tradisioneel), Hermien du Plessis (ope afdeling - groot), Erina von Gordon (ope afdeling - klein/medium, en modern), Ina Meyer (gesamentlike projek, en kuns - beeldend en abstrak) en Elize Kemp (miniatuur). Wendy Fryer en Marian Viljoen het die beoordelaarskeuse-rosette ontvang.
Die beoordelaars was Shan Fox en Odett Tolksdorf.
Mense wat belangstel om by die gilde betrokke te raak, kan Ina Meyer kontak by inameyer51@gmail.com.
President van die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde, Antoinette Kriel, by van die kwilts wat deel vorm van die reisende uitstalling.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’