GEORGE NUUS - Die laaste etensuurkonsert in hierdie jaar se Lentereeks vind vandag, Woensdag 6 November, plaas.
Met die bekende orrelis dr. Gerrit Jordaan agter die klawers beloof dit om 'n ware 'grand finale' te wees.
Jordaan is die afgelope sewe jaar die orrelis by die Moederkerk en het in hierdie tyd 'n reusebydrae tot die musiektoneel in George gemaak.
Hy speel onder andere musiek van Chris Lamprecht, J S Bach en Franse romantiese musiek.
Ook op die program is twee van sy eie komposisies, geskryf na aanleiding van Shakespeare sonnette, wat handel oor die verweer van tyd en hoe kuns en die innerlike lewe die verweer oorkom.
Hierdie werke sluit aan by die titel van die konsert, Like as the waves.
Die veelsydige Jordaan stal ook 'n stel van sy dryfhout akrielskilderye uit wat oor dieselfde tema handel. Hierdie Gesamtkunst-konsert illustreer dus hoe verskillende kunsvorme mekaar komplementeer.
Die konsert vind Woensdag vanaf 13:10 tot ongeveer 13:50 in die Moederkerk plaas. Toegang is gratis, maar donasies sal waardeer word.
• 'n Galakonsert van hierdie reeks, waar die meeste van hierdie reeks se kunstenaars weer gaan optree, vind om 19:30 op 13 November plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’