VERMAAK NUUS - Musiek was nog altyd die plan, vertel Germaine Leonard (27) van Parkdene.
Op tienjarige ouderdom het hy vir die eerste keer leer speel.
"My oupa het met 'n ou kitaar hier aangekom en my stukkie vir stukkie leer speel. Maar dit was nie genoeg nie." Germaine wat oorspronklik van Kaapstad is, sê hy wou altyd meer leer, was honger vir nuwe inligting, en toe hulle George toe verhuis was hy blootgestel daaraan.
Hier het hy met formele opleiding begin, bietjie laat, maar die passie in sy hart het hom gedryf en hy het gou die volgende stappe baasgeraak.
Op skool het Germaine en van sy vriende 'n musiekgroep begin, en gou naam gemaak vir hulself as die FanaticsSA.
"Ons paadjies het egter na skool geskei omdat die lewe ons in verskillende rigtings geneem het. Ek is terug Kaap toe vir my musiekstudies en op universiteit is ek verder aan nuwe dinge blootgestel."
Hy vertel sy opleiding was aanvanklik in klassieke kitaar, maar sy hart het gelê by jazz, Kaap-Maleise styl wat eie aan Suid-Afrika is. "Dit is hoekom dit belangrik vir my is om my eie musiek te skryf en te speel. En jy kan tans daarna luister op twee van die plaaslike gemeenskapsradiostasies."
Maar geen pad na die hart is sonder struikelblokke nie - vir Germaine was dit finansies wat gekeer het dat hy sy studies voltooi. Hy moes vir drie jaar gaan werk en spaar, maar wou altyd teruggaan om sy kwalifikasie te kry. "Ek het my familie gesê ek moet teruggaan, en kon darem die krediete kry om sommer my graad in die ekstra jaar wat die universiteit my gegee het te voltooi." Hy vertel hy is jonk al blootstelling en geleenthede gegee en wou op sy manier teruggee, en vanjaar is hy deel van die Hoërskool George waar hy die musiekonderwyser is.
Germaine saam met sy ma, Jacoba en pa, Riedewaan.
Sy oë glinster en glimlag as hy gesels oor sy musiekleerders, hoe hulle leer en verander. "Dit is harde werk en soms weet ek nie hoe ek kop bo water hou nie, maar ek verkies dit geen ander manier."
Germaine het intussen weer 'n musiekgroep gestig, skryf steeds sy eie musiek en gee aan sy musiekleerders van homself sover as wat tyd toelaat. "My droom is om verder te studeer noudat ek 'n stabiele inkomste het, en nie bekommerd hoef te wees waar die huurgeld of motorpaaiement vandaan gaan kom nie. My werk laat my toe om ook my passie uit te leef. Ek het geweet musiekopvoed-kunde gaan die regte rigting wees."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'