GEORGE NUUS - Die Lente-etensuur konsert vandag, Woensdag 23 Oktober, bevat musiek uit die klankbaan van die televisiereeks The Crown, wat losweg oor die heerskappy van wyle koningin Elizabeth II handel.
Verskeie komponiste het aan die klankbaan gewerk. Hans Zimmer het die hooftitel tema gekomponeer en dit word deurgaans deur die verskeie seisoene gebruik. Ander komponiste sluit in Rupert Gregson-Williams, 'n student en kollega van Zimmer, asook Martin Phipps, die peetseun van die alombekende Engelse komponis Benjamin Britten.
Die kunstenaars Christopher Petrie (orrel en klavier) en Zander Loots (elektroniese perkussie) gaan transkripsies van musiek uit die reeks opvoer.
Die orrel, wat dien as plaasvervanger vir die orkes, is meermale deur Zimmer in klankbane gebruik en hierdie konsert bevat oorwegend orrelmusiek, asook klavier, perkussie en die stem.
Die emosionele trefkrag van klankbaanmusiek ter ondersteuning van die storie wat vertel word, word dikwels onderskat of geïgnoreer.
Hierdie konsert is dus 'n huldeblyk aan die pragtige musiek wat geskep is deur hierdie komponiste.
Die kunstenaars
Christopher Petrie het sy BMus honneurs-graad met orrelreper-toriumstudies as hoofvak aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Hy tree dikwels as repetisie pianis en begeleier op.
Zander Loots speel al vir meer as 20 jaar tromme, insluitend vir die Doxa Deo-gemeente wat tans die musiekproduksie Ritme op die Roete aanbied.
Petrie en Loots was albei in die orkes vir die musiekblyspel Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat wat in Junie by die George-kunsteteater op die planke was.
Die etensuurkonserte word in die NG Moederkerk aangebied en is gratis, maar donasies om die onkoste van die kunstenaars te help dra, sal waardeer word.
Dit begin om 13:10 en duur tot ongeveer 13:50.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’