GEORGE NUUS - Sy praat soos 'n dogtertjie, en sing soos 'n diva. Luna Paige se stem weergalm nou nog in die auditorium by George-kunsteteater na haar optrede Sondag 2 Maart voor 'n piepklein gehoor.
Oceanic Heart doen nou sy rondes in die land, en ja, sy wou ook in die Tuinroete kom toer.
Haar laaste vertoning is Woensdag 5 Maart om 19:00 in Hoekwil by Cornerstone Creek Chapel.
Luna se kleurvolle, eerlike vertellinge van haar ervarings, stukkies van haar lewe en agtergrond tot haar musiek los die konsertganger in 'n gemaklike ruimte om meegesleur te word deur haar ongelooflike kragtige stem en volronde musikale vertoning. Sy vul die hele ruimte.
Haar kitaar en klawerbord word ingespan vir begeleiding tot beide haar eie liedjies en die van bekende kunstenaars.
In alle eerlikheid, ek het haar weergawe van Carol King se "You've got a friend" meer geniet as die oorspronklike. As tydgenote geniet ons wel dieselfde soort musiek, so dit was 'n vertoning vol heimwee. Luna se konsert herinner aan 'n era toe woorde nog saak gemaak het.
Die dogtertjie op die verhoog, met haar skaam glimlag, blinkerrokkie en sagte glimlag verander in 'n oogwink in 'n formidabele vrou met 'n stem wat skepe sal sink.
Vir meer inligting oor die konsert in Hoekwil, kontak Nadine by 076 586 9305. Daar is slegs plek vir 40 mense; etes kan vooraf deur Rambling Rose gereël word.
Haar kitaar en klawerbord word ingespan vir begeleiding tot beide haar eie liedjies en die van bekende kunstenaars. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’