VERMAAKNUUS - “Musiek wat met die hart praat – toeganklik, roerend met diep menslikheid.” Dít is wat liefhebbers van koormusiek volgens die gevierde koorleier André van der Merwe, kan verwag wanneer 65 koorlede van die Voces Cordis-koor op Sondag 10 Augustus om 12:30 vir die eerste keer op die verhoog by Klein Karoo Klassique verskyn.
Hulle program bied ’n musikale reis wat die essensie van die koor vasvang – beide as individue en as ’n kollektiewe stem – met ’n uiteenlopende keuse werke, van ’n tradisionele Kavango-gebed en Laura Jekabsone se energieke “Gloria”, tot Brent Wells se roerende “It Is Well With My Soul”, Jacob Collier se “Little Blue”, en die geliefde Afrikaanse lied “Voshaarnooi”.
Die koor se naam, Voces Cordis, wat “stemme van die hart” beteken, weerspieël die koor se gees. Van der Merwe verduidelik dat die repertoire gekies is om die diversiteit van die koor te weerspieël – ’n ryk mengsel van persoonlikhede, agtergronde en lewenservarings. “Ons lede is volwassenes wat besige lewens lei: Hulle balanseer loopbane, gesinsverantwoordelikhede, skoolroosters, besighede, en kry dit steeds reg om tyd te maak vir repetisies en om komplekse muiek te memoriseer,” sê hy.
“As volwassenes ervaar die koorlede musiek op ’n persoonlike vlak en bring hulle ’n diepte en begrip na elke stuk wat uitgevoer word. Dit is ons eerste optrede as koor op Oudtshoorn en ons sien uit daarna om ’n program aan te bied wat beide ons verskeidenheid én ons eenheid weerspieël. Ons is bowenal daartoe verbind om ’n opregte en gevoelvolle uitvoering te lewer wat ’n blywende indruk sal laat.”
Van der Merwe voeg by dat die koor opgewonde is om hul musiek met ’n gehoor wyer as waaraan hulle gewoond is te deel, en om ’n gedeelde verbintenis met die mense van Oudtshoorn, deur die koor se grootste passie, te hê.
“As ’n volwasse koor is ons tyd saam dikwels beperk tot repetisies of optredes – dit is nie maklik om meer tyd in ons besige lewens in te pas nie. Dít maak dit soveel meer spesiaal om deel van Klein Karoo Klassique te wees. Dit bied vir ons die kosbare geleentheid om betekenisvolle tyd saam deur te bring en daardie vreugde met ander te deel.”
“Klein Karoo Klassique bring nie net die gemeenskap van Oudtshoorn byeen nie, maar skep ook ’n lewendige platform waar klassieke musiek op verskeie maniere gevier word – hetsy deur sang, klavier, orrel of snaarinstrumente. Dit vier die rykdom en diversiteit van die genre op ’n manier wat toeganklik én inspirerend is. Dis vir ons ’n eer om deel te wees van hierdie viering van klassieke musiek in sy sestiende jaar.”
“Baie van ons sangers ken mekaar – en my – reeds van hul tienerjare af. Hulle bring diep musikale wortels byeen, ná hulle in wêreldklas-kinderkore gesing en internasionaal aan kompetisies deelgeneem het. Hierdie gedeelde geskiedenis, gekombineer met die volwassenheid wat lewenservaring bring, gee ’n besondere rypheid en emosionele diepte aan ons musiek,” sê hy.
Van der Merwe is ook die musikale direkteur van die Universiteit Stellenbosch-koor (sedert 2003) en het pas teruggekeer van die Interkultur Europese Koorspele en Grand Prix of Nations 2025 in Aarhus, Denemarke, waar hulle drie goue medaljes verower het.
Hy beskryf sy werk met koormusiek as uiters lonend, omdat hy kan sien hoe musiek elke betrokke persoon aanraak – van die gehoor en die koorlede tot die komponis en die liriekskrywer.
“Elke persoon ervaar ’n stuk anders, en as dirigent het ek ’n sitplek in die voorste ry vir daardie emosionele konneksie. Koormusiek is werklik ’n spanpoging – elke stem, elke deel speel ’n unieke en noodsaaklike rol om aan die musiek lewe te gee. Dis ’n kragtige herinnering aan hoe individuele bydraes iets veel groter as die som van die dele kan skep.”
Die idee vir Voces Cordis het ontstaan toe Van der Merwe ’n pasiënt van een van sy voormalige koorlede was. “Tydens elke besoek het die onderwerp van ’n volwasse koor opgekom, totdat die idee uiteindelik posgevat het. Van die eerste oudisies was dit duidelik dat hierdie koor iets besonders sou wees. Baie van hulle was bekende gesigte – oudlede van Pro Cantu Jeugkoor, Stellenberg Meisieskoor en die Universiteit Stellenbosch-koor. Dit het gevoel soos ’n natuurlike hereniging van stemme wat al voorheen saam gereis het – nou gereed om iets nuuts te skep. En dít inspireer ons span elke keer,” sluit hy af.
’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al nege uitvoerings teen ’n besparing van meer as 20% te sien. Kaartjies is aanlyn beskikbaar, of by die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dié winterfees se verblyfborge is Aloe Manor, Argyll B&B, Bakenskraal Ostrich Palace, Beit Shalom Guesthouse, Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Mooiplaas Guest House, Queen’s Hotel, Ravenscliff Manor en Rosenhof Country House.
Vir meer inligting, besoek https://www.klassique.co.za/ of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’