Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Kunsonderwyser van George High het twee van sy gunsteling verhoogpersoonlikhede met 'n selfportret in koffie en akriel vereer.
Kevin van Niekerk het die koffievlek-tegniek 'n paar jaar gelede per ongeluk ontdek.
Nou spog die bekende sanger en akteur David Kramer, sowel as die internasionale sanger Calum Scott, met 'n Van Niekerk-skildery.
'n Blik van Scott se portret is te siene in 'n video vir sy SA Bridges-toer (sien onder).
VIDEO: Verskaf
"Ek het sy hele reis gevolg tot waar hy vandag is... ek is mal oor sy musiek en hy is besig om groot hoogtes te bereik in die industrie. Hy is ook baie nederig met 'n liefde vir Suid-Afrika," het Van Niekerk oor sy keuse van hierdie besondere kunstenaar gesê.
Beide Scott en Kramer se skilderye is op 2 April aan hulle oorhandig. Die Kfm en Expresso-aanbieder Carl Wastie het Scott se skildery by die Kfm-kantore in Kaapstad oorhandig.
David Kramer ontvang sy geskenk deur kunstenaar Kevin van Niekerk (regs).
Van Niekerk kon Kramer s'n self oorhandig tydens die KKNK, knap na David Kramer se vertoning "Ver in die wêreld Kittie".
"David Kramer is 'n lewende legende in die uitvoerende kunste. Hy is 'n inspirasie vir baie met sy voete plat op grond," het Van Niekerk gesê. "Hy was so in sy noppies en kon dit nie glo nie."
Met die koffievlek-tegniek word koffie bo-op 'n skilderdoek gegooi. "Dit droog so na twee dae, dan begin ek daarop skilder," het Van Niekerk verduidelik.
Volgens Van Niekerk sal enige soort koffie die ding doen - maar beslis sonder melk! Op 'n vraag wie se portret is volgende, het hy gesê dit hang van die geleentheid af, maar daar is nog 'n paar idees in die pyplyn.
Die legendariese David Kramer, in koffie en akriel op doek.
'n Portret van die internasionale sanger Calum Scott in koffie en akriel op doek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’