Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die wag vir die tiende Klein Karoo Klassique is so te sê verby.
"Ons as organiseerders, sowel as die kunstenaars is opgewonde om groot gehore op Oudtshoorn te ontvang,” sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat Klein Karoo Klassique aanbied.
Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn word van Donderdag, 9 tot Sondag, 12 Augustus aangebied.
"Ter viering van Klassique se tiende verjaarsdag, is die fees een dag langer en bied ons tien uitvoerings aan, teenoor die agt van verlede jaar. Na die sukses van die laataand uitvoerings in Die Windpomp Restaurant Teater word dié program ook uitgebou na drie optredes, teenoor verlede jaar se twee,” vertel Theart.
Hoogtepunte uit vanjaar se musiekprogram sluit in Night at the Opera, deur die Charl du Plessis Trio. Hulle open die musiekprogram in die NG Moederkerk op Donderdagmiddag om 14:30. Dit is ’n unieke reis met die mees geliefde opera-arias, waaronder uit Die Towerfluit (Der Hölle Rache), Rigoletto (La donna è mobile), Tosca (E lucevan le stelle) en ander.
Volgens Du Plessis kan die gehoor uitsien na hulle program, aangesien dit pas vir die eerste keer in Switserland gespeel is. “Die gehoor kan hulle voorberei vir ’n volle dosis opera met al die drama, humor en pragtige melodieë, soos die komponiste dit aanvanklik gekonseptualiseer het. Daar is natuurlik ook lekker jazz-nommers op die program, waarin my trio-kollegas Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme) kan wys hoe goed hulle speel,” sluit hy af.
Die Klein Karoo Klassique begin hier in die NG Moedergemeente, Oudtshoorn met tien uitmundende vertonings van Suid-Afrka se voorste klassieke musici.
NG Moedergemeente, Oudtshoorn
Tydens die tweede uitvoering, Misa (Donderdagaand om 18:00), het die gehoor die voorreg om ’n premièrevoorsmaak van die nuwe mis met ’n Suid-Afrikaanse invloed, soortgelyk aan die Kongolese en Latyns-Spaanse invloede van die Missa Luba en die Missa Criolla, eerste te beleef.
Dié projek, in opdrag van die Nasionale Afrikaanse Teater Inisiatief (NATi), word vir uitvoerings by verskeie feeste en teaters in 2019 ontwikkel, onder die kreatiewe leiding van Marthinus Basson, met Antjie Krog wat die teks skryf en Antoni Schonken wat die musiek komponeer. Hierdie spesiale vertoning word aangebied as ’n demonstrasie-lesing, as deel van die ontwikkelingsproses. Uitreksels uit die werk word deur verskeie rolspelers voorgelees en gesing, gevolg deur ’n gesprek met gehoordeelname. Soliste van die Kaapse Operakoor, Thando Mjandana, Ané Pretorius en Cecilia Rangwanasha sluit by Krog op die verhoog aan.
Die Odeion Strykkwartet keer op Vrydag om 10:00 terug na Klassique vir The Four and the One, saam met pianis Albie van Schalkwyk, om die intimiteit van die beste meesterstukke van die laat-romantiese era te ontsluit. “Die atmosfeer op Oudtshoorn, asook die gehore wat uitgehonger vir klassieke musiek is, maak dit baie spesiaal om daar op te tree,” sê Anmari van der Westhuizen van die Odeion Strykkwartet. “Ook die feit dat dit slegs klassieke musiek is wat hier uitgevoer word, maak dit ekstra spesiaal.”
“Die gehoor kan uitsien na ’n pragtige romantiese program, met die ‘Intimate letters’ strykkwartet nr. 2 deur Leoš Janácek, wat nie dikwels gehoor word nie. Dit is ’n pragtige werk met brokkies vinnig opeenvolgende, kontrasterende emosies. Die werk was in Janácek se sterfjaar gekomponeer, waarin hy sy hartstogtelike liefde vir Kamila Stösslová weergee. Sy was veel jonger as hy en albei was getroud. Die ander bonus vir gehore is om die pragtige romantiese César Franck klavierkwintet te hoor, saam met die bekende pianis Albie van Schalkwyk,” vertel Van der Westhuizen verder.
Mareli Stolp (klavier), Waldo Alexander (viool) en Morné van Heerden (klarinet) is Vrydagmiddag om 14:30 in The New Old – Die nuutheid van oudheid te sien. Stolp, vanjaar vir die derde keer by Klein Karoo Klassique, was ook by die eerste fees in 2009 op die program. Ook vir Stolp maak die gehore dié fees baie spesiaal. “Ek vind die luisteraars geweldig betrokke, toegewyd en vol goeie energie. En ook bereid om nuwe musiek en buitengewone werke ’n kans te gee – waarlik gehore met oop ore en ’n liefde vir musiek. Dít maak Klassique vir ’n uitvoerder ’n wonderlike speel-ervaring. En dan die omgewing: die Klein Karoo is so ’n wonderskone plek en Oudtshoorn is ’n warm en ontvanklike dorp,” aldus Stolp.
Volgens Theart het kaartjies vir die uitvoerings in Die Windpomp Restaurant verlede jaar uitverkoop.
“Feesgangers moet dus seker maak hulle bespreek vroegtydig, aangesien daar slegs beperkte sitplekke beskikbaar is,” meen hy. Die musiekprogram hier sluit in optredes deur The Grey (Ellani de Jager en Donné de Kock), ’n dramatiese viool-duo wat reeds landswyd kompetisies gewen het. Hulle musiek word gekenmerk deur ’n vermenging van oud en nuut, met klassieke musiek uit ’n wye reeks genres, waaronder pop, rock en ballades. The Grey is op Donderdag, 9 Augustus om 21:00 in Die Windpomp te sien.
Op Vrydag, 10 Augustus om 21:00 keer Brathew van Schalkwyk (klavier), Jesse Julies (saxofoon en sang) en Naledi Masilo (sang) terug na Klassique vir Another Evening of Jazz. Dié trio het ’n uiters suksesvolle debuut by verlede jaar se Klassique gehad en bring ’n nuwe Jazz-program na die fees. Elkeen van die kunstenaars het ’n indrukwekkende grondslag en die groep voer ’n vermenging van tradisionele jazz en meer kontemporêre interpretasies op.
José Dias (klavier) speel op Saterdag, 11 Augustus om 21:00 een van die belangrikste klavier-meesterstukke uit: 24 Preludes Op.28 deur Frédéric Chopin. Die gehoor ervaar ’n stormagtige, romantiese en fantastiese reeks van onvergeetlike musikale sketse.
Kyk 'n video hieronder.
Kaartjies na elk van dié uitvoerings kos R90 per persoon. Etes word nie by die kaartjieprys ingesluit nie. Kaartjies vir die optredes in Die Windpomp is beskikbaar by Kunste Onbeperk se kantoor of stuur ’n e-pos na info@kunste.org.za of kontak 044 203 8600. Aandete word vanaf 19:00 by Die Windpomp bedien, met ligte middagetes wat ook hier beskikbaar is.
’n Eksklusiewe wynproe word ook vanjaar aangebied en gee aan feesgangers die geleentheid om wyne, gemaak van die oudste wingerdstokke in Suid-Afrika, te proe. The Old Vine Project se André Morgenthal bied hierdie baie spesiale wynproe op Saterdag, 11 Augustus van 16:00 tot 17:00 aan. Kaartjies kos R250 en daar is slegs 30 beskikbaar. Besprekings kan by 044 203 8600 of info@kunste.org.za gemaak word.
Vir meer inligting, besoek www.klassique.co.za, volg Klein Karoo Klassique op sosiale media of kontak Kunste Onbeperk by 044 203 8600.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'