VERMAAK NUUS - Vanjaar se Kanna-wenners van die KKNK, geborg deur Absa, is op Donderdag 15 Mei aangekondig. Die Kannas is tydens ’n glansgeleentheid by NASDAK in Kaapstad oorhandig.
KUNS, uit die pen van gevierde Franse skrywer Yasmina Reza, is met vyf Kannas bekroon.
Dié debuutkomedie is aangewys as beste debuutwerk, beste toneelaanbieding en beste ensemble. Naòmi Morgan se vertaling van die teks uit Frans na Afrikaans het aan haar die Kanna vir beste uitnemende literêre bydrae besorg en Wilhelm van die Walt het die Kanna vir beste manlike speler in ’n hoofrol ontvang, vir sy spel in beide KUNS en die drama Stinkhout.
Isidlamlilo/The Fire Eater is met drie Kannas bekroon. Neil Coppen is aangewys as beste regisseur, Mpume Mthombeni as beste vroulike speler in ’n hoofrol en Tina le Roux vir beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir haar beligtingsontwerp van dié drama.
Annie+Helen is met twee Kannas bekroon. Bianca Flanders is aangewys as beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol en Judi Hattingh as beste opkomende kunstenaar of nuweling vir haar spel in dié drama oor Helen Keller.
Henk Serfontein, die KKNK se feeskunstenaar vir 2025, is ook met twee Kannas bekroon. Sy uitstalling, Die stomme aarde, is aangewys as beste visuele kunsaanbieding, terwyl Aardmoeder: ’n Uitvoerende tekening saam met danser Hannah Loewenthal, die Herrie-prys vir innovasie ontvang het.
Die Charl du Plessis Trio se Bach & Beatles is aangewys as beste kontemporêre musiekaanbieding en Vincent: His Quest to Love and Be Loved met Daniel Anderson en Paul Ferreira op klavier is aangewys as beste musiekteateraanbieding.
Blitsteater was ’n nuwe toevoeging op die KKNK se program, met ’n kombinasie van Lucky Pakkie en Uitkampteater van ouds in kort stukke van 20-minute elk, en Sandi Dlangalala en Ilana Cilliers se Smak is bekroon as beste Blitsteater-aanbieding.
Marc Lottering se stand-up-vertoning Marc Eugene Lottering is bekroon met die Kanna vir beste komedie-aanbieding. Brendon Daniels is bekroon met die Kanna vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol vir sy spel in Moedswil en muitery.
Grommels met Angelique Filter en Robert Hindley is bekroon met die Kanna vir beste kinderteater-aanbieding. Hierdie kategorie is beoordeel deur ’n paneel van 20 laerskoolleerders tussen die ouderdomme van 6 en 13 jaar vanuit die breër Oudtshoorn-gemeenskap, onder toesig van twee Kannapaneellede.
KKNK 2025 Kannas © Natalie Gabriels Photography
Lees meer by susterskoerant, Oudtshoorn Courant
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’