OUDTSHOORN NUUS - By vanjaar se KKNK word erkenning gegee aan Jana Cilliers, Deon Meyer, Eldon van der Merwe, Poem Mooney en die feeskunstenaar Colbert Mashile.
Die 28ste fees word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart op Oudtshoorn aangebied.
Die aktrise Jana Cilliers ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking en sê hierdie eerbewys is soveel meer spesiaal omdat sy vanjaar op die KKNK is met ’n stuk wat sy geskryf het. “Jy kan nie speel wat nie geskryf is nie,” sê sy.
Deon Meyer ontvang vanjaar die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir literêre bydrae. “Hierdie prys is ’n geweldige eer en het my onkant gevang. En dis nie skyn-nederigheid nie. Om vereer te word vir iets wat vir jou so lekker is om te doen, voel amper verkeerd,” sê hy.
KKNK 2024 Deon Meyer © Wil Punt.
Eldon van der Merwe word vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir jong stem. Hy was 12 jaar oud toe hy ’n rol in ’n verhoogproduksie van Fiela se kind gespeel het en ná skool het hy drama by Northlink College studeer. Rolle in reekse soos Arendsvlei en Ouboet en Wors het gevolg, asook werk vir die verhoog in onder meer Fietsry vir dommies wat vanjaar op die KKNK-program is. Die veelsydige Van der Merwe is ook te sien in die musiekblyspel Roem.
KKNK 2024 Eldon van der Merwe © Nardus Engelbrecht.
Die legendariese storieverteller en skrywer Poem Mooney ontvang die KKNK-prys vir lewensbydrae tot kuns en kultuur.
Boeke soos Kringe om die maan, Dit klink soos ’n klok en Stories uit Lap, sy boek oor Prins Albert, het al uit sy pen verskyn en hy is die stamhoof van die Attakwa Khoisan-organisasie wat hy in 2000 by die Wêreldberaad van Inheemse Volkere in Switserland verteenwoordig het.
KKNK 2024 Poem Mooney © Ryan Dammert.
Colbert Mashile is die Feeskunstenaar. Hy het as kind enige moontlike oppervlak gebruik om op te teken en ná skool in Bosbokrand in Mpumalanga is hy Pretoria toe om publieke administrasie te studeer.
KKNK 2024 Colbert Mashile.
Maar in die Jakarandastad het die jong Mashile vir die eerste keer kunsgalerye ontdek en net geweet: Dít is wat ek wil doen; ek wil ’n kunstenaar word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’