GEORGE NUUS - Musiekliefhebbers kan nou hul ore spits vir die herfsreeks van die etensuurkonserte in die Moederkerk, wat op 12 Maart 'n aanvang neem met 'n optrede deur die bekende fluitspeler Leonard Heydenrych.
Heydenrych was vroeër 'n inwoner van George wat by allerlei musiekbedrywighede ingeskakel het.
Hy slaag daarin om sy loopbaan as mediese dokter suksesvol te kombineer met 'n baie bedrywige musiekloopbaan.
Op Stellenbosch het hy gestudeer onder Eva Tamassy. Hy het saam met verskeie orkeste opgetree en prestasies behaal, onder andere die nagraadse diploma in die uitvoerende kunste by die Royal College of Music. Hy bespeel 'n besondere Emanuel fluit, spesiaal vir hom gemaak.
Hy is stigter en dirigent van die Heydeburg-kamerorkes wat hulle toelê om musiektalent in die Wes-Kaap te bevorder ten bate van die Eyes2eyes en HearUS stigtings.
Sy program bestaan uit musiek uit die romantiese en baroktydperke, bv. Louis Ganne, Paul Taffanel en CPE Bach. Hy word begelei deur Kaléne Roux (klavier) en Gerrit Jordaan (orrel). Die konsert begin om 13:10 en duur ongeveer 45 minute. Toegang is gratis, maar donasies is welkom en belangrik vir die suksesvolle voortsetting van die konsertreekse.
Die program vir die ses konserte in die reeks is as volg:
19 Maart: Christiaan Snyman (bas) begelei deur Dalene Brits op die klavier
26 Maart: Little Big Music School o.l.v. Karl Ackerman
2 April: Indaca : Calvin Steyn (viool), Ingrid Robinson (viola) en Dalene Brits (klavier)
9 April: Elisabeth Potgieter (mezzo-sopraan), Karen Temmingh (alt) en Dalene Brits (klavier)
16 April: Orrel- en klavierduo: Gerrit Jordaan en Dalene Brits
Almal is welkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’