GEORGE NUUS - In 'n verassingswending kan skole en kreatiewes vanjaar vir twee eisteddfods inskryf: Garden Route-eisteddfod en George-eisteddfod.
Ofskoon die George-eisteddfod reeds aan die begin van die jaar geregistreer is, het die bestaan van hierdie platform eers verlede week die nuuskringe getref.
Volgens Jan-Erik Swart, een van die direkteure, het hulle besluit om die eisteddfod in die lewe te roep na oorweldigende versoeke van die klassieke musikante in die gemeenskap wat voel hulle talent word nie ten volle deur die Garden Route-eisteddfod onderskraag nie.
Verwarring
Die direksie van die Garden Route-eisteddfod is egter van mening dat die "herroep" van die George-eisteddfod verwarring gaan veroorsaak aangesien hulle net verlede jaar amptelik die teuels van die dorp se enigste eisteddfod, by name die George-eisteddfod, oorgeneem het.
Die voormalige koördineerder van George-eisteddfod, Annaretha Louw, het destyds met die oorgee in 'n video-onderhoud gesels oor die toekoms van die eisteddfod wat as 'n platform vir die kunste hande ruil.
"Kinders en onderwysers gaan nou kinders inskryf vir items sonder dat hulle besef daar is in der waarheid nou twee eisteddfods. Ons het oneindig baie moeite gedoen met borge en fantastiese pryse vir die Garden Route-eisteddfod. Dit is nogal 'n harde hou om op hierdie stadium van die wedstryd hiervan te hoor," het Lizette Gerber, 'n direkteur van Garden Route-eisteddfod, gesê.
"Ons wil die beste vir ons kinders hê, en nou dit..."
Tydens hul eerste jaar as platform vir die kunste het Garden Route-eisteddfod meer as 3 000 inskrywings ontvang vir deelname aan drama, dans, sang, instrumentaal, visuele kunste en kreatiewe skryfwerk.
Volgens Swart het die "nuwe" George-eisteddfod al meer as 200 inskrywings tot op hede vir hul musiekafdeling ontvang. Kuns- en drama-afdelings sal ook beskikbaar wees, terwyl 'n dansafdeling volgende jaar bygevoeg sal word.
Die naam
In 'n onlangse persverklaring deur Garden Route-eisteddfod maak hulle die stelling dat die gebruik van die naam, George-eisteddfod, ongemagtig is: "Die organisasie/individue wat daarop aanspraak maak om die George-eisteddfod weer in die lewe te roep het geen affiliasie met die ou handelsmerk van die George-eisteddfod nie en was dus nie betrokke by die samesmelting van die handelsmerke in 2022 nie. Die gebuik van die naam is dus ongemagtig," lees die verklaring.
"Sedert die samesmelting in 2022 het die ou George-eisteddfod oorgeskakel na die Garden Route-eisteddfod. Volgens Swart is die naam 'George-eisteddfod' reeds in Januarie goedgekeur, en is daar geen wetlike besit van die naam nie. Volgens Alida Gerber, 'n komiteelid van Garden Route-eisteddfod, die saak is nie so eenvoudig nie, daar baie aspekte van 'n besigheid of 'n entiteit wat beskerm word onder verskillende aspekte van die reg.
Redes
Swart het verduidelik dat daar volgens kenners in die musiekkringe 'n gaping gelaat is in die Garden Route-eisteddfod vir leerders wat spesialiseer in klassieke musiek.
"Dit is nie ons doel om kompetisie vir die Garden Route-eisteddfod te wees nie, maar hulle spreek nie dieselfde behoeftes aan nie. Musiekleerders het die eisteddfod nodig ter voorbereiding vir hul musiekeksamens. Hulle maak wel ruimte vir die klassieke musiek, maar dit word nie deur kundiges beoordeel nie. Hulle fokus meer op ligte musiek."
"Ons het ook die ou George-eisteddfod se metodiek van inskrywing en uitleg oorgehou (inhandiging per hand), terwyl die Garden Route-eisteddfod uitsluitlik met die internet werk. Ons pryse is bekostigbaar en kinders wat meer as een instrument speel kan dit gemaklik bybring."
Volgens Swart was hulle in samesprekings met Garden Route-eisteddfod, maar is daar nie positiewe oplossings vir hul probleme gevind nie. Gerber het by navraag bevestig dat 'n ontmoeting wel verlede jaar met Swart plaasgevind het: "Hy was baie kritiserend teenoor een van die beoordelaars se kwalifikasies, maar ons het na sy aanbeveling geluister en vir die klassieke afdeling 'n beoordelaar gekies wat bekend is in die area en gemaklik is met al die klassieke onderwysers. Dit is egter steeds nie genoegsaam geag nie."
'n Komiteelid van die Garden Route-eisteddfod, Elrine Lottino, wil graag weet indien die bedoeling van George-eisteddfod slegs was om die klassieke afdeling te versterk, waarom ander afdelings soos visuele kunste, drama, skeppende skryf en dans ook ingesluit is?
"Die voortdurende bevraagtekening van die beoordelaars van die Garden Route-eisteddfod laat ons wonder oor hulle verwagtinge en hoekom hierdie verwagtinge nie aan die Garden Route-eisteddfod gekommunikeer is nie."
Op dreef
George-eisteddfod het uitnodigings na 60 skole gestuur. "Ons registrasies eindig die tweede laaste week van Julie. Musiekinskrywings eindig 30 Junie. En inskrywings vir kuns en drama Vrydag 28 Julie. Uit die aard van die saak is daar baie kinders wat aan beide wil deelneem, en ons moedig dit aan," het Swart gesê.
"Van die skole het besluit hulle wil die Garden Route-eisteddfod doen, ander het aangedui hulle wil graag by ons deelneem. Die beoordelaars kom van elders. Dit gaan nie oor moeilikheid maak nie, ons doen dit vir die kinders."
Inskrywings vir Garden Route-eisteddfod het op 1 Junie geopen. Besoek hul webblad vir meer inligting: www.gardenrouteeisteddfod.co.za
Meer oor die reg
Alida Gerber, 'n komiteelid van Garden Route-eisteddfod, het die volgende opmerking gemaak oor die registrasie van die naam George-eisteddfod: "Die dispuut oor die naam wat sonder toestemming geregistreer is met die wete dat daar wel ‘n bestaande handelsmerk, reputasie en werfkrag bestaan is nie so eenvoudig nie.
Daar is baie aspekte van 'n besigheid of ‘n entiteit wat beskerm word onder verskillende aspekte van die reg.
Daar word ook nie net beskerming toegeken aan geregistreerde besighede nie, aangesien daar verskillende besigheidstrukture in Suid-Afrika aanvaar word.
"Die kwessie is tans dat 'n 'nuwe' entiteit met bestuurslede wat geen deel gehad het aan die vorige handelsmerk, nou staat maak op die goeie reputasie en werfkrag van die ou entiteit en daardeur verwarring in die publiek veroorsaak. Die registrasie van 'n naam, met die wete dat daardie besigheid reeds bestaan, is baie meer ernstig, aangesien daar dan opsetlik wanvoorstellings gemaak is tydens daardie registrasie van die nuwe maatskappy."
Lizette Gerber en Alida Gerber-Lategan, twee van Garden Route-eisteddfod se organiseerders. Die res van die komitee is as volg: Elrine Lottino, Tanja Lategan, Jané Odendaal, Annemarie van Niekerk, Piet van Niekerk, Izelle Bester, Kelsey Erasmus en Charve Grebe. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’