VERMAAK NUUS - ’n Unieke kulturele viering wag op liefhebbers van musiek en poësie wanneer die Eden Camerata-kamerkoor op 27 September ’n besonderse Vers en melodie-konsert in die St. Marks-katedraal se parochiesaaltjie aanbied. Dit begin om 18:00.
Die uitvoering is deel van die vieringe van die 100-jarige bestaan van Afrikaans as ’n amptelike taal.
Die gehoor kan uitsien na ’n roerende program met van die mooiste Afrikaanse verse en musiek uit die pen van Totius, NP van Wyk Louw, Chris Lamprecht, Koos Doep, Boerneef en ander.
“Dit is ’n eenmalige konsert om die skoonheid en erfenis van Afrikaanse poësie en musiek te vier,” sê André van Zyl, een van die organiseerders.
“Die repertoire beloof om roerende harmonieë met tydlose woorde te verweef en só ’n onvergeetlike aand te skep.
"Vir liefhebbers van die Afrikaanse taal, letterkunde en musiek is dit ’n seldsame geleentheid om erfenis en kuns in een aand te beleef.”
Toegang is gratis, maar sitplekke is beperk en donasies is welkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’