Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO'S - Al vyf die vereerdes by vanjaar se KKNK in Oudtshoorn het diep spore in die kunste getrap - twee aktrises, ’n musiekgroep, ’n musiekmeester met wortels op Oudtshoorn en ’n bekroonde visuele kunstenaar.
Dié 5 kunstenaars is vanmiddag, by die KKNK vereer:
• Marion Holm ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking.
• Lee-Ann van Rooi is die ontvanger van die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys.
• John Theodore ontvang die KKNK-prys vir diens aan die kunste.
• Die Heuwels Fantasties ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir innoverende denke.
• Henk Serfontein is 2025 se feeskunstenaar.
Henk Serfontein is 2025 se feeskunstenaar.
Hy is ’n voormalige wenner die Sasol New Signatures-kompetisie en was ook ’n inwonende kunstenaar by die Cite´ Internationale des Arts in Paris, asook die Piramido´n Center for Contemporary Art in Barcelona, Spanje. Van sy werk is opgeneem is die permanente uitstallings van onder meer Gencor, Rand Merchant Bank, Spier en Absa.
“Ek het die KKNK die eerste keer in 1995 bygewoon en gehoop die fees sou groei en standhoudend word,” sê hy. “Die afwagting en potensiaal is uiteindelik volbring, want hier vier ons die 29ste herdenking van die fees.” Om as feeskunstenaar gekies te word, is vir hom ’n eer en buitengewone erkenning van sy loopbaan die afgelope drie dekades. Die stomme aarde is die titel van sy uitstalling. “Dit volg op my vorige samewerkings met Wilma Stockenström. Opgeneem in die uitstalling is ’n reeks omgewingsbewuste tekeninge wat gebaseer word op die gedigte met ’n ekologiese strekking in Stockenström se eerste twee digbundels. Hierin span ek digkuns as tolk in, vir ’n reeks werke wat deelneem aan die groen gesprek. ’n Reeks klipgedigte gebaseer op haar gedig ‘Almoeder’ word ook uitgestal.”
Die Heuwels Fantasties ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir innoverende denke. Hulle eerste album,
Die Heuwels Fantasties, is in 2009 vrygestel. Die groot treffer is “Klein Tambotieboom” en in 2010 wen die groep die SAMA-toekenning in die kategorie beste Afrikaanse alternatiewe album. Coenie de Villiers het gesê nie net verdien die ouens die toekenning vir wat hulle vir kuns en die gemeenskap beteken nie, maar boonop is hulle bleddie nice!
Marion Holm ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking.
Haar bydrae tot komedie en ’n eiesoortige stand-up, asook haar werk as aktrise op die verhoog en op TV, het deur die jare oor en oor haar veelsydigheid gewys. Sy was al te sien in meer as 60 teaterproduksies, meer as 20 TV-produksies en is ook die skrywer en regisseur van ’n magdom stukke. Holm sê jy kan nie regtig akteurs se werk met mekaar vergelyk as hulle totaal verskillende rolle speel nie. "Dis soos om ’n skaaptjop, ’n yskas en ’n peer te vergelyk. Maar ek glo in en waardeer erkenning. Daai wat die juffrou vir jou ’n goue ster gee, want jy het jou huiswerk mooi en netjies en noukeurig gedoen. Jy is raakgesien en op die skouer geklop. Ek waardeer dit. Mens het aansporing nodig.”
Lee-Ann van Rooi is die ontvanger van die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys. Van die begin van haar loopbaan, het Van Rooi nog nooit weggeskram van enigiets nie.
Nie uitdagings, grense of haar rol as aktrise, regisseur en mentor nie. Met verskeie toekennings op haar kerfstok, rus sy nie op haar louere nie. Sy wérk. Haar fokus en dit wat sy doen word altyd aangepak met ’n groter visie om ’n bydrae tot nasiebou in Suid-Afrika te lewer. Sy neem jong spelers en skrywers onder haar vlerk en help om die storieskatkis van die land uit te bou.
Die Kruispunt-prys is vir haar ’n bewys dat sy op die regte pad is. “Mens moet altyd die ego uit die pad neem en daar wees om die storie te vertel,” sê sy. “Ek is dankbaar dat dit raakgesien word.”
John Theodore ontvang die KKNK-prys vir diens aan die kunste. Theodore is ’n Oudtshoorniet in murg en been. Sy eerste musiekles was by die Holy Cross Convent op Oudtshoorn en nou, dekades later, kan hy terugkyk na ’n luisterryke loopbaan as pianis, leermeester en mentor.
Hy het ná matriek in 1973 musiek aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Dit was in ’n tyd waar hy weens apartheid spesiale vergunning moes kry om by dié universiteit te studeer, maar dit het hom nie gekeer om ’n meestersgraad te behaal nie. Hy was die ontvanger van verskeie toekennings, het in sy loopbaan op verskeie beoordelaarspanele gedien en was ook ’n eksaminator by Unisa. Theodore sê hy is dankbaar vir ’n eerbewys soos hierdie van die KKNK. “Ek het nog altyd alles met eerlikheid, opregtheid en lojaliteit gedoen sonder om erkenning en eer te verwag. Ek hoop hierdie eerbewys sal as aansporing vir veral my gemeenskap dien.”
Wyndham Ewerts van Group Editors gesels met die legendariese pianis en Oudtshoorniet, John Theodore by die ABSA-kuierkamer kort na sy verering vir sy lewenslange bydrae tot musiek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’