Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die briljante misdaadromanskrywer Deon Meyer was by die Groenkloof-aftreeoord op Donderdag 16 November vir 'n genotvolle laatmiddag kuier saam met inwoners en bewonderaars.
Hy was in gesprek met Marliza van den Berg, bekende joernalis en aanbieder van die televisiereeks, Op Soek na Eden, wat hom uitgevra het oor sy loopbaan, belangstellings en sy jongste boek, Leo, wat in Oktober verskyn het.
Die gehoor kon luister na interessante vertellings oor sy skrywersloopbaan, oorsese reise vir boekbekendstellings, die skryfproses en die deeglike navorsing wat hy doen, hoe sy vrou Marianne hom ondersteun, en ook oor belangstellings buiten sy skryfwerk.
Hy het 'n kort voorlesing uit Leo gedoen as voorsmakie vir dié wat nog nie die boek gelees het nie. Bennie Griessel maak weer sy verskyning in die boek, wat al die elemente vir 'n boeiende misdaadstorie bevat.
Sonder om te veel te verraai, het Meyer vertel dat sekere nuusgebeure ongeveer 12 of 13 jaar terug die "vonk" was vir sy jongste verhaal.
Hy het so drie jaar jaar gelede besluit dis tyd om dié gebeure deur te trek na 'n storie.
Martin Barnard, Groenkloof se oordbestuurder en self 'n Deon Meyer-bewonderaar, het in sy verwelkoming grappenderwys voorgestel dat die skrywer sy volgende boek in Groenkloof moet laat afspeel. Meyer was akkoord, maar het tot groot vermaak van die gehoor gewaarsku dat Barnard die lydende party in die verhaal sal wees.
Meyer was in George op uitnodiging van Nostalgie Café se eienaars, Erica en Marius Gruber. Zorgvliet-wynkelder is ook genooi om 'n wynproe aan te bied en daarmee saam het gaste 'n happiebord met Leeuwenbosch Boerenkaas geniet.
VIDEO - Deon Meyer doen 'n voorlesing uit sy boek:
Mel Bartlett het van Sedgefield af gekom vir die boekbekendstelling.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’