GEORGE NUUS - Dit was Sondagmiddag, 27 Februarie, weer louter vreugde om na die Charl du Plessis Trio te kon luister en hul vermenging van klassieke- en jazz-komposisies te ervaar.
Die trio bestaan uit pianis Charl du Plessis, Werner Spies (elektriese basviool) en Peter Auret (perkussie).
Verwerkings van Beethoven was eerste op die program: die openingsdeel uit sy alombekende Vyfde Simfonie, gevolg deur die stadige deel uit die Pathetique Sonate en toe elke beginner pianis se droom - Für Elise.
Vanaf die eerste stuk was dit duidelik dat elke speler in die ensemble die titel kan dra van verbeeldingryke virtuoos. Melodieë is uitgeruil tussen die verskillende registers van die klavier, die basviool en selfs die drie tromme van die perkussie.
Dis veral as Auret sensitief die borsels gebruik en as hy die onderverdelings van die pols verlewendig, wat die ore spits. Sy verwerking van Für Elise - waar die drie polse in die maat na sewe uitgebrei is, was 'n beplande oorgang na die res van die program, wat veral die tango in verskillende gedaantes belig het.
Albeniz se Tango in D, na aanleiding van Godowski se klavierverwerking, is opgevolg met vier werke van die Argentynse komponis Astor Piazolla, wat feitlik net tango's geskryf het, maar as kunsmusiek: Adios Nonino, Rivirado, Oblivion en Libertango. Stilte en subtiele aksente is afgewissel met sensuele, driftige musiek.
Die sensitiwiteit waarmee die uitgerekte melodie van Oblivion gespeel is, sal hierdie resensent nog lank bybly. Die bekende Libertango het in 'n nuwe baadjie verskyn in gesprek met Michael Jackson se Billy Jean.
In Gardel se El Choclo (verwerk deur Spies) en La Cumparsita was daar veral kans om die elektriese basviool as meditatiewe solo-instrument te ervaar.
Du Plessis se kennis van styl en repertorium, maak dat hy juweelmotiewe óf leen óf nuut uitdink. In laasgenoemde werk was daar soms nugter teksture soos dié van Haydn, wat dan weer geantwoord is met iets wat uit New Orleans sou kon kom.
Vingers op die simbale, die stryk van die stok teen die rand van die simbale - wat 'n horinggeluid veroorsaak- , snare wat in die klavier gepluk word, basvioolmelodieë in die lae en hoë registers, is alles deel van die speeltegnieke wat hierdie ensemble inspan om die gehoor te oorrompel.
Charl het erkenning gegee aan die Switserse klaviertegnikus Urs Bachmann wat verlede week aan die instrument van die George Musiekvereniging gewerk het. Die resultaat van sy werk kon klankhelder in hierdie konsert ervaar word.
Du Plessis het die voorlaaste werk in die program, Hernando's Hideaway, opgedra aan sy eerste klavieronderwyseres, Annaliza Swart - wat ook in die gehoor was. Die program is afgesluit met die bekende Tico Tico no Fuba (rufous-collared sparrow in the cornmeal), wat Charl spitsvondig vertaal het met "moet liewer nie rook nie".
Ná 'n samestelling van musiek in die blues-idoom as encore, wat onder andere 'n aanhaling uit die Blou Donou ingesluit het, is ons huis toe met warm harte en groot waardering vir wat die bloubloed-musikante uitgedeel het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'