GEORGE NUUS - Mense van George en omgewing het Woensdagaand, 28 September, gesorg vir 'n stampvol St Mark's-katedraal in George. Dit was die begin van die Concert in Cathedral-reeks vir 2022 en was 'n reusesukses.
Beurtkrag het nie inbraak gemaak op die bywoning nie. Kerslig en lampe het gesorg vir 'n uitnemende atmosfeer in die statige gebou met sy pragtige loodglasvensters.
Jaden en Jesse van Heerden, Ludolph Pedro en Samuel Leggatt het klaviersolo's gelewer. Werke van Debussy en Schubert het nie net klaviersnare geroer nie, maar ook menige mense se hartsnare. Hul aanslag was besonders en almal het hul musiektalent ten toon gestel.
Al vier pianiste is reeds uitgenooi om aan die UNISA South Africa Piano Scholarship Competition, en UNISA South Africa Music Scholarship Competition deel te neem.
Die George-mannekoor onder leiding van Chrisna du Preez het verskeie werke gesing. Dit sluit in O Kriste ('n Sweedse gesang), Ukuthula (Zulu-gebed) en die snaakse The Laughing Policeman (geskryf deur Charles Penrose).
Die nuutgestigte Eden Camerata-kamerkoor het beïndruk met Mozart se Ave verum corpus, Heilig van Schubert, en 'n paar ligte werke van Chris Lamprecht, gelei deur André van Zyl en Ronell Mentz. Die program het ook die ritmiese, komiese werk Vaalpad ingesluit.
Die besonderse musiekaand is pragtig afgesluit met die Aandgesang geskryf deur Chris Lamprecht, wat die twee kore saamgesing het.
Die George-mannekoor. Foto: Elma Vreken
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'