Ben Schoeman se klavieruitvoering verlede week in die George Arts Theatre het ‘n mens herinner aan die aanhaling van die beroemde pianis Arturo Rubinstein: "My klavier is my tuin", want die puik pianis het die besondere skoonheid van sy musikaliteit met die gehoor gedeel.
Die program het veral op romantiese klaviermusiek gekonsentreer en dit was sekerlik hoekom die mooi toonkleur en musikale vertolkings ‘n mens aan ‘n kleurryke tuin herinner het.
Ben Schoeman is van jongs af aan Suid-Afrikaanse gehore bekend danksy talle TV-opnames en die vele pryse wat hy landwyd verower het.
Die jongste en grootste prys was die gesogte UNISA-Vodacom Internasionale klavierwedstryd in Pretoria verlede jaar, die eerste keer wat ‘n Suid-Afrikaner dit gewen het. Ondanks sy duidelike voorliefde vir klassieke musiek, het hy waardering vir die talent, veelsydigheid en werkywer van Michael Jackson, vertel hy.
"Enige ernstige musikant verdien respek want dit is harde werk wat baie toewyding verg," sê hy.
Dit word ook weerspieël in sy huidige Vodacom-toerprogram.
"Die toer beteken dat ek 23 konserte in 5 weke gee. Dit is ‘n vol program, maar die geesdrif wat ek oral ondervind, is baie lekker," vertel hy.
Ben werk tans aan sy doktoraat in musiekkuns aan die City University of London en beplan in middel April 2010 ‘n uitvoering in die beroemde Wigmore Hall wat veral vir klavieruitvoerings bekend is. Enigiemand wat beplan om dan in Londen te wees, kan gerus ‘n puik jong Suid-Afrikaanse pianis gaan ondersteun!