Video
GEORGE NUUS - 'n Bro' van Conville is woes aan die rap oor drugs en kinders en alles wat boos is. "Ek wil hulle van die strate afhou, hulle moet skool klaarmaak, hulle drome volg," het Bronwyn Thompson, oftewel B23, gesê.
Sy liedjie Gisem, wat in straattaal wow beteken, is sowat twee weke gelede op sy YouTube-kanaal bekendgestel.
"Skut die Duiwel af af (af af)", so lees die lirieke op Bronwyn se foon, waar hy sy inspirasie neerpen.
"Ons kinders is geïnfekteer met tienerswangerskappe, dwelms, alkohol, skool drop outs. Ek wil die gemeenskap bymekaar bring," het hy gesê.
Die video vir die liedjie is in Conville se strate en Busy Shop in Maraiskamp deur Curllynn Duncan Jullies (Iron Production) van Swellendam geskiet. Kinders van die omgewing het sommer so ingeval en meegedoen toe hulle die kameras naderbring.
VIDEO - Gisem! George rapper Bronwyn Thompson, aka B23, se nuwe liedjie “Skut die Duiwel af af af”:
Bronwyn het aan die einde van verlede jaar in Willowmore, in die Oos-Kaap, by 'n jaareindpartytjie opgetree, saam met kunstenaars soos RJ and LK, Plaasnaar, Kaitlin Filander, Aisha Babez, Mr Cee, DJ Zaylo en NV funk.
Bronwyn rap nou al vir die afgelope dekade. Hy het eers verlede jaar begin om sy liedjies op te neem. "Ek skryf my eie songs. Ek en Jason Mars maak ook Rugby Club Songs, soos die Evergreens se Dan's, wat nou trend op TikTok."
"Ek hoop en bid en sit my vertroue in God. Hy het alles waar laat word. Ek kyk na Hom vir rigting. Ek voel gemaklik om oor enige probleem te rap, want God het vir my 'n gawe gegee. Ek gaan dit gebruik om George op te lig."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’