GEORGE NEWS - Ainsly Kennedy van Rosemoor, 'n talentvolle 24-jarige musikant, het onlangs 'n aangrypende lied geskep en uitgevoer wat die harte van mense regoor Suid-Afrika aangeraak het.
Sy inspirasie vir die lied, Joshlin se Lied, het ontstaan uit die hartseer van die vermiste meisie, Joshlin Smith, van Saldanha.
Kennende die omvang van die tragedie, het Ainsly besluit om 'n stem te wees vir diegene wat nie kon praat nie.
"Die inspirasie vir die lied was die verdwyning van Joshlin en hoe hands on Gayton McKenzie en Oom Biza was met die soektog na haar. Die lied het na my toe gekom vroeg in die oggend, en ek het net begin skryf. In my gedagtes het ek gesien hoe die lied mense raak omdat dit my as mens geraak het."
Die lied is vinnig opgeneem en die video het baie aandag gekry. Ainsly is selfs deur Oom Biza van Kaapstad gekontak en genooi om op te tree by 'n gebedsdiens vir Joshlin in Bloemfontein.
Hierdie geleentheid, wat op Sondag 24 Maart plaasgevind het, was vir hom 'n ervaring wat hy nooit sal vergeet nie.
Ainsly die verhoog gedeel met ander bekende kunstenaars soos Rapper Rottas en sanger Angelo Beyers, wat bekendheid geniet op platforms soos TikTok.
Ainsly se liefde vir musiek het 'n lang geskiedenis wat teruggaan na sy kinderjare. Sy ma, Nadia Kennedy, vertel dat hy al van 'n jong ouderdom af lief was vir musiek en sy groot liefde vir rapmusiek ontwikkel het toe hy slegs ses jaar oud was.
"Ainsly hou daarvan om met kinders in die buurt te werk om hulle te help om nie in misdaad en dwelmmisbruik te val nie. Hy speel rugby op die straat met die seuns en ek kan sien dit maak die kinders baie gelukkig. Hy wys hulle dat jy nie hoef te word wat jou situasie is nie. Jy kan daarbo uitstyg en jy moet nooit ophou om jou droom na te jaag nie."
Ainsly is 'n ware rolmodel vir die jeug en sy musiek weerspieël sy persoonlike ervarings en wat hy sien en hoor op die straat.
Sy raad aan jong kunstenaars is dat hulle in hulself moet glo. "Maak nie saak wat ander sê nie. Wees altyd eerlik met jou kuns en sien hoe jou woorde mense verander."
Luister na 'Joshlin se Lied' hier: