VERMAAK NUUS - Afrikaans 100 is verlede week met entoesiasme en oorgawe by Geneva-fontein-aftreeoord gevier en selfs die Engelssprekende inwoners het meegedoen.
Plaaslike skrywer Maretha van der Westhuysen vertel meer:
Oud, maar nog lank nie koud - dit is ons taal, Afrikaans, maar so ook die inwoners van die aftreeoord.
Om hierdie groot mylpaal van Afrikaans te vier het Cathleen Jansen, die trustee vir sosiale aktiwiteite, 'n heerlike program vir Woensdag en Donderdag,
7 en 8 Mei, gereël en die inwoners het dit voluit ondersteun.
Die twee dae se feestelikheid het Woensdag afgeskop met 'n oggendprogram waartydens die uwe 'n praatjie gelewer het oor die ontwikkeling van Afrikaanse poësie oor die afgelope meer as 100 jaar.
Sy het ou gunstelinggedigte voorgedra, wat by tye trane in die oë gebring en herinneringe opgediep het. Die gehoor is ook voorgestel aan moderne digters met aangrypende gedigte oor onder andere die Covid-tydperk.
Saam met die gedigte het Jaconett Brink pragtige strelende agtergrondmusiek gespeel en ook enkele toonsettings van die gedigte gesing, terwyl Paul Hofman ook 'n gedig van Koos du Plessis gesing het.
Die middag kon die inwoners weer jonk voel met die pittige voordragte van leerlinge van die George-Suid en Outeniqua laerskole. Wat 'n vreugde om die jeug se entoesiasme vir ons taal te kon ervaar.
Organiseerder Cathleen Jansen aan die woord.
Die feestelikheid is Donderdagaand afgesluit met 'n galakonsert aangebied deur die groep Sing 4 en die George-mannekoor. Hulle vrolike en begeesterde sang is met groot vreugde ontvang en geniet.
Ons het almal besef dat ouderdom slegs 'n getal is. Met Afrikaans se honderdjarige bestaan, is die taal sterker en veerkragtiger as ooit en dit was 'n voorreg om dit te kon beleef.
Maretha van der Westhuysen
Sing 4 in aksie. Die lede is, van links: Paul Hoffmann, Jaconett Brink, Andre Botha en Julie McFadden.
Die gehoor het die uitstekende program geniet.
Teagan van den Berg van Laerskool George-Suid se tema vir sy praatjie was 'Ons word gevorm deur wat ons toelaat om ons te vorm'.
Milla Potterton van Laerskool Outeniqua se voordragonderwerp was, 'My oupa is ouer as Google en Ouma is mal oor tee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’