GEORGE NUUS - Abigail Christians, 'n skrywer van George, het pas haar tweede publikasie, 'n Christelike novelle getiteld Tuiswaarts, bekendgestel.
Christians, gebore in 1974 in George, se debuutdigbundel, Veertig Vrugte, het in 2021 verskyn. Met Tuiswaarts keer sy terug na haar passie vir storievertel, hierdie keer met 'n fiksieverhaal wat sterk persoonlike en geestelike temas dra.
Die verhaal speel af in die vroeë negentigerjare en volg 'n tienermeisie uit die bruin gemeenskap wat haar tuisdorp verlaat om by haar suster in Kaapstad te woon en haar skoolloopbaan te hervat.
Sy worstel egter met 'n identiteitskrisis en is op soek na 'n letterlike én figuurlike tuiskoms - haar plek in die samelewing en haar doel in die lewe. In hierdie proses hervat sy haar verhouding met God, wat uiteindelik die kern van haar reis vorm.
Hoewel die boek hoofsaaklik fiksie is, het Christians elemente van haar eie lewenspad ingewerk. "Ek het tydens die skryfproses dinge oor myself ontdek wat lank agterweë gebly het," vertel sy.
Sy beskryf Tuiswaarts as 'n proses van selfontdekking wat sy glo baie ander sal kan verstaan en mee kan vereenselwig.
Die teikenlesers is hoofsaaklik vroue, veral tienermeisies, maar sy glo dat ook ouer vroue waarde daaruit kan put. "Ek het al baie vroue ontmoet wat steeds nie by selfaanvaarding uitgekom het nie," sê sy.
Christians hoop die boek sal lesers help om emosionele bagasie van die verlede te verwerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’