Update
GEORGE NUUS - Die lewe van wyle Leon Stanvliet (62) gaan op 26 April by die Down to Earth Restaurant in Heroldsbaai gevier word. Stanvliet van Heroldsbaai het onlangs in Port Elizabeth onverwags gesterf terwyl hy aan die Ironman-kompetisie deelgeneem het.
Hy en nog 'n deelnemer, André Trichardt van KwaZulu-Natal is in 'n hospitaal dood nadat hulle in die moeilikheid beland het tydens die swemafdeling van die kompetisie.
Stanvliet het al voorheen ook aan die Ironman-kompetisies deelgeneem en die Comrades-ultramarathon voltooi. Mense wat hom baie goed geken het, het gesê hy was 'n baie gesonde man en sy dood het as 'n groot skok gekom.
Die egpaar het twee kinders - 'n seun en 'n dogter - wat beide studente is. Stanvliet is die oudste van drie kinders. Hy het 'n jonger suster wat in Amerika woon en 'n jonger broer, Ettiene wat op Stellenbosch woon.
Stanvliet se vrou, Aletta, 'n staatsaanklaer het aan die George Herald gesê die geleentheid in Heroldsbaai begin om 17:00. Sy het bygevoeg: "Dis my wens dat mense ons familie se privaatheid sal respekteer."
Sedert die nuus van Stanvliet se afsterwe bekend geword het, het haar telefoon onophoudelik gelui. Sy het haar dank uitgespreek teenoor almal vir hul belangstelling en mense wat hul gevoel van medelye betuig het.
Stanvliet se suster in Amerika sal die geleentheid bywoon. Colin Halgryn, inwoner van George, het Stanvliet vir 36 jaar geken. Hulle was kollegas en ook tennismaats. Volgens hom was Stanvliet 'n sielkundige en ook onderwyser by Hoërskool Die Bult, (Dassiebult) vanaf September 1983 tot Desember 1996.
Hy het vertel dat Johan Blom, gewese skoolhoof, by die skool 'n ervaring wat hy met Leon gehad het, met hom gedeel het.
"By geleentheid wou Johan graag 'n leerling wat probleme veroorsaak het, met Leon bespreek. Aangekom by Leon se 'kantoor' sit die spesifieke leerling by Leon in diepe gesprek. Dan die skok van alle skokke. Beide die sielkundige en leerling sit met 'n brandende sigaret in die hand. Die prentjie is mos in die onderwys totaal taboe. Die hoof het net daar skokkend in sy spore omgedraai.
"Bietjie later 'konfronteer' die skoolhoof vir Leon oor sy 'misstap'." Hy wou by Stanvliet weet hoe hy so-iets kan doen. Stanvliet het geantwoord:"Mnr. Blom, ek gun jou, jou manier (metodiek) van dinge doen wanneer jy optimale resultate soek by jou personeel en leerlinge, maar mnr. Blom, jy moet asseblief ook my manier van dinge doen respekteer wanneer ek diep delf om leerlinge se probleme op te los."
Volgens Halgryn het Stanvliet wonderlike werk by die skool gedoen tot hy later op Heroldsbaai as sielkundige gaan praktiseer het.
Halgryn het 'n boodskap van vertroosting aan Aletta gehad. "Oor die 14 jaar by Die Bult was daar tussen hom en die leerlinge 'n besonderse hegte band. Talle van die leerlinge het uit weeshuise of haglike huislike omstandighede gekom.
"Meesal was hulle maar erg wantrouig teenoor die mensdom. Baie van die Dasse (leerlinge) was maar verwese, ouerloos, vriendeloos... selfs Godloos... amper weggooi-kinders. Aletta, toe... Goddank, kruis hulle paadjies met Leon Stanvliet. Hulle vind toe 'n onderwyser/sielkundige met 'n oop en gewillige oor. Hulle vind 'n mens met berge vol empatie vir hulle probleme... sonder om dissipline te ignoreer."
Hy het namens homself en al die Oud-Dasse, Aletta bedank dat sy oor 14 jaar bereid was om Stanvliet se liefde met die Dasse te deel. "Glo my vry daardie liefde het wonderlike dividende gebaar."
• Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het gesê die nadoodse ondersoek is afgehandel. Die verslag sal na die polisiebeampte gestuur word wat na die aangeleentheid kyk. Die proses neem gewoonlik drie tot ses weke.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'