Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die 21-jarige Naelon Andrews, 'n oudleerder van Hoërskool Thembalethu, teken vandag, Donderdag 11 April, 'n platekontrak met Universal Music, slegs 'n week nadat sy verborge sangtalent raakgesien is in 'n selfoonvideo wat iemand van hom op Facebook geplaas het.
Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal, vlieg vandag George toe vir die ondertekening.
Andrews, met sy innemende glimlag, vertel hy was Dinsdag te voet onderweg in Merrimanstraat toe hy 'n "gevoel" gekry het dat hy moet begin sing.
Sy singery uit volle bors het kantoorwerkers se ore laat spits toe hy hul kantoorgebou nader. Hy het verbygestap, maar Shari Dreyer het haar seun, Johan, wat buite was, gestuur om hom voor te keer en hy is in die kantoor ingenooi waar hy vir almal moes sing. Jessica Basson het 'n video gemaak en op sosiale media gedeel.
"Toe ons hom hoor, het ons eers gedink dis 'n karradio wat naderkom, so mooi het hy gesing," vertel Jessica. Sy het die video's eers op haar eie Facebook-blad en later op Georgiete Staan Saam gedeel. Daar was selfs reaksie uit Nieu-Seeland.
Teen Woensdag verlede week het die video sowat 600 000 kyke gehad en 'n dag later het Groot FM in samewerking met Universal Records, Andrews opgevlieg vir 'n onderhoud met omroeper Ruben Delmage in die radiostasie se ateljee in Pretoria.
Daar het hy drie liedjies gesing voordat Boshoff die ateljee betree en Andrews verras het met die nuus dat hulle 'n platekontrak aan hom skenk. Boshoff het in die radio-onderhoud gesê Andrews het "hope en hope talent" en sy stem gaan mense "wegblaas".
Oor twee weke gaan Andrews weer opvlieg na Pretoria waar werk aan die album sal begin.
Kyk 'n video hieronder:
Andrews het in George grootgeword en in 2017 gematrikuleer. Verlede jaar het hy by Life Community Services gewerk en Sally Versfeld, direkteur van Life, het hom aan Eden-gemeente gaan voorstel waar hy by die kinderbediening betrokke geraak het.
Hy het ook by die Future Focus Education Centre, 'n privaat skool, gewerk. Sy plan om vanjaar met onderwysstudie deur Unisa te begin, is moontlik weens die platekontrak vir eers op ys. Andrews se ma, Johanna, het by navraag gesê sy is baie trots op haar seun.
Toe hy in die hoërskool was, het sy hom na Life Community Services se nasorg laat gaan en daar is hy aan sang en musiek bekendgestel. "Ek moes hom alleen grootmaak, maar hy was nog altyd 'n voorbeeldige kind en verkies dit om by die kerk betrokke te wees eerder as by verkeerde dinge. Hy verdien hierdie geleentheid. Ek is baie trots op hom."
Naelon Andrews saam met Jessica Basson (links) wie se video die aandag van Universal Music op hom gevestig het, en kollega Shari Dreyer.
Lees 'n vorige artikel: Platekontrak
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'