Riana Scheepers en haar man, Johann Loubser. Vir 'n kort onderhoud met die egpaar oor hul onlangse trek na Wilderness, besoek www.georgeherald.com. Foto's: Michelle Pienaar
GEORGE NUUS - Die bekende Afrikaanse skrywer Riana Scheepers, en haar lieflingman, Johann Loubser, het onlangs hul wingerdplaas in Wellington vir Wilderness se seelug verruil.
Volgens Riana het hulle in Junie verlede jaar die groot skuif gemaak en is hulle tans besig om hul huis op te knap. Hierdie bekroonde skrywer van kortverhale, poësie en kinderliteratuur, stap graag vroegaand met haar geliefde en hul honde in die omgewing. "Ons neem ook dikwels 'n bottel wyn saam," het Riana vertel.
Daar is 'n hout promenade by die melkhoutbome aan die wang van die strandmeer. Dit is die perfekte plek vir 'n skemerkelkie. Tydens 'n fotosessie verlede Saterdag was die jare lange vennootskap, wedersydse liefde en respek tussen dié twee mense merkbaar.
En toe kry Riana sommer op die kooptoe 'n verrassingsoentjie terwyl die kamera flits. In haar fyn hakskoentjies versier met rosies en 'n kersierooi rok, was sy die toonbeeld van romanse - en hy, 'n ware heer met sy blou en wit strepies hemp en 'n vurige das. Perfek in pas met die gees van Valentynsdag.
"Ons vier sommer vandag die liefde, aangesien ons nie op Valentynsdag saam kan wees nie," het Riana gesê. Sy bied Saterdag 'n slypskool aan, en Johann, 'n hospitaal-ontwikkelaar, moet elders wees vir werk.