Daar was hierdie week 'n interessante artikel in The Guardian oor navorsing by 'n Amerikaanse Universiteit wat bevind het dat sosiale media nie, soos wat Trump en sy ondersteuners doer anderkant en plaaslik beweer, konserwatisme onderdruk en muilband nie.
Volgens die studie gee dit hierdie individue baie meer publisiteit as wat gematigdes kry.
Persoonlik dink ek nie daar was hoegenaamd 'n studie daaroor nodig nie. As mens op 'n heel onwetenskaplike wyse na plasings en kommentare of Facebook kyk is dit so duidelik soos 'n LED-lig op 'n donkermaannag dat mense met radikale en samesweringsopinies baie meer aandag kry.
Hier is sommer 'n lukrake nie-wetenskaplike voorbeeld. Een of ander rusbankwetenskaplike het haar pligte agter die stofsuier (ja, ek weet dis seksisties, maar dis die prentjie in my kop) vir 'n paar minute opsy geskuif en op 'n plasing oor entstowwe kommentaar gelewer.
Sy het iets kwytgeraak oor geaborteerde fetusse wat as hoofbestanddeel vir entstowwe aangewend word. Nie een enkele ander kommentaar het soveel reaksie ontlok as daardie een nie.
Nie net het elke anti-aborsionis met data op sy of haar foon heelhartig op die wa gespring nie, maar beledigings en toesnouery het ingestroom. As dit nie oordonderende erkenning vir 'n absurde stelling is nie, weet ek nie. En dit gebeur daagliks.
Hoe meer absurd iemand se mening is, hoe meer blootstelling kry hulle. En moenie dink hulle steur hulle aan mense wat hulle teëgaan nie, dis net nog meer petrol op hulle samesweringsvuur.
En, gaan dit nie maar in die daaglikse lewe ook so nie? Die wat onredelik stroomop is kry die meeste aandag. Die man wat ewe vriendelik sy broodjies by die supermark se bakkery-afdeling gaan koop kry nie naastenby soveel aandag soos die gesondheidsbewuste dame wat presies wil weet watter bestanddele in elke broodjie is nie en dan moet die arme assistente bontstaan met al die antwoorde.
Soos die diereregte-aktivis wat nou die dag by die deli-afdeling vir die meisie agter die toonbank vra:"Is hierdie gebraaide hoenders 'free-range' of van daai wat in lang broeikamers gemartel word?" En toe die meisie nie weet nie kom die opdrag, "Nou maar toe, gaan vind uit, ek wag."
Ja Tannie, en die res van ons wag nou maar ook geduldig tot jou opdrag uitgevoer word. Ek is bly ek werk nie agter die toonbank nie. My antwoord sou gewees het: "Nee mevrou, ek weet regtig nie waar hulle vandaan kom nie, toe ek vanoggend inklok het hulle maar so bruingebak hier in rye lê en wag om geëet te word."
Mens kry hulle oral. Die wat kla dat hulle misken word of dat hulle menseregte verkrag word en hulle kosbare tyd deur onnodige rompslomp vermors word. Forse patriargte wat vir hulle gesinne in die motor wil wys wie's baas as hulle voorgekeer word.
"Nou maar hoekom keer jy juis vir my voor, wat van die taxi wat nou net hier verby is?" Of die kwasi-regsgeleerde in sy spogmotor: "Luister broer, het jy opleiding ontvang om die gatsometer te beman en het jy akkreditasie en is hy gekalibreer en hoe lank lê hy al in die son?" Dit terwyl ander inskiklike mense geduldig wag om maar net sonder vertoon verder te mag ry.
Ek het een Sondagmiddag (ja, koerante is Sondae ook aan diens) 'n onderonsie gehad met 'n man wat ongelukkig was omdat hy op ons Facebook-blad 'n boodskap oor beurtkrag geplaas het en nie onmiddellik 'n antwoord ontvang het nie. Skaars tien minute later kom die volgende boodskap.
"Ek het julle 'n vraag gevra!" Toe ek voorstel dat hy in so 'n uiterste noodgeval, waar hy onmiddellik wil weet of die krag dan nou aan of af is, die beheerkamer moet skakel, en die nommer vir hom gee, ontdek ek hy woon nie in Oudtshoorn nie, maar iewers in die Kaap.
Dit maak geen sin nie, maar dit het 'n halfuur van my en ons aanlynredaksie se Sondagtyd in beslag geneem.
Miskien moet mens die lewe vir jouself makliker maak en die samesweerders, anti-entstowwers, Covid-ontkenners en plataarde-bewoners doodeenvoudig ignoreer. Laat hulle absurde stellings alleen daar in die lug hang, sonder enige kommentaar.
Dalk gaan hulle vanself weg soos die bedelaar wat besef niemand gee vir hom geld op 'n spesifieke plek nie, hy kan net sowel 'n ander plek of 'n werkie gaan soek.