SUID-KAAP RUGBYNUUS - Rugby in die Suid-Kaap sal nog 'n wyle die pas markeer alvorens daar werkbare planne op die tafel is om die spel weer aktief te hervat.
Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyunie, het in 'n telefoniese onderhoud met George Herald gesê die unie se bestuurspan is druk besig met planne om nuwe lewe in die spel te blaas.
"Dis voortydig om nou meer hieroor te sê. Ons gooi 'n hele klompie idees rond om rugby ná die Covid-19-pandemie weer op dreef te kry, maar ek kan wel noem dat ons daarop fokus om met 'n hele nuwe professionele benadering ten opsigte van die spel, die spelers, en die afrigtingspan vorendag te kom. Ek glo ons sal meer besonderhede hieroor vroeg in November bekend kan maak."
Eddie Myners, hoofafrigter van die SWD Arende, was net so uit die veld geslaan om te lees dat hy in November 'n groep gekontrakteerde beroeps- en klubspelers sou begin afrig.
Gangpraatjies op Facebook en selfs in 'n dagblad het hiervan melding gemaak. "Dis van alle waarheid ontbloot," het Myners aan George Herald gesê. "Niemand het enige formele gesprekke met my gevoer oor my betrokkenheid as hoofafrigter by die SWD Arende nie en daar is ook niks op papier nie. Gevolglik kan ek geen kommentaar lewer nie."
Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyunie (links) en Arende afrigting, Eddie Myners.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) glo planne om vroeg in 2021 'n reeks aan te bied waaraan al 14 rugbyunies sal kan deelneem. Die SA Beker sal op die spel wees vir die wenner en die agt topspanne sal dan tot die Curriebekerreeks se Premierliga deurdring.
Ná 'n lang droë seisoen sal só 'n reeks beslis nuwe woema gee vir veral die kleiner unies, soos die SWD.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'