GEORGE NUUS - Een van Suid-Afrika se voorste stel-skoppers, Manie Libbok, het die skoppers van Hoërskool Outeniqua se eerste rugbyspan verlede week besoek en sy kennis kom deel.
Dié Springbok het die span nie net van raad voorsien nie, maar tegnieke en vaardighede om hul spel te verbeter vir die komende seisoen gedeel.
Wanneer die eerste rugbyspanne van ander skole die seisoen teen die Kwaggas se topspan uitdraf, kan hulle dit gerus in gedagte hou.
Libbok was in 2014 en 2015 'n leerling van die skool. Hy kom oorspronklik van Uitenhage en was daar in HTS Daniël Pienaar. Sy voog wou hom destyds skuif na 'n skool wat hom meer geleenthede kon bied en het die skool gekontak. In 2014 en 2015 het hy vir Kwaggas se eerste span, sowel as SWD Cravenweek uitgedraf.
In 2015 is hy gekies vir die SA skolespan wat teen Wallis, Frankryk en Engeland gespeel het. In 2016 en 2017 was hy ook lid van die SA o. 20-span oftewel die Jong Bokkies.
Verlede jaar tydens die Springbokke se toer in Europa het hy sy debuut in die groen en goud gemaak. Hy het teen Frankryk van die plaasvervangersbank vir die Springbokke opgedraf.
Manie Libbok wys die fynere kunsies van rugby aan Kwagga-spelers.
Piet Cloete, sporthoof van Outeniqua, het Maandag gesê Libbok het verlede Woensdag, 25 Januarie, 'n draai kom maak by die skool. Cloete ken Libbok goed. Toe Libbok 'n leerling by die skool was, het Cloete met sy afrigting gehelp toe hy in 2014 en 2015 vir die eerste span uitgedraf het.
Libbok is op die oomblik beseer en kan nie in wedstryde speel. Volgens Cloete het Libbok die geleentheid gebruik om te kom groet by die plek waar hy op hoërskoolvlak rugby gespeel het.
Woensdagmiddag het hy die proewe van die eerste span bygewoon en Donderdag het hy 'n afrigtingsessie met die spelers en skoppers gehad.
"Manie het met 'n nuwe inslag gekom en 'n paar nuwe dinge ingebring. Die spelers kon by hom leer en het beslis by hom geleer. Dit was goed om hom weer te sien."
Kwaggas se eerste tuiswedstryd is tydens die skool se Eeufeesportnaweek op 17 en 18 Maart. Die rugby is 18 Maart en altesame 68 rugbyspanne sal meeding. Daar sal ook hokkie en netbal gespeel word. In die stadium is daar 'n moontlikheid van 'n wegwedstryd voor daardie naweek.
Manie Libbok saam met die Kwaggas se o.14-oefengroep.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'