GEORGE RUGBYNUUS - Klein begin, aanhou win. Só kan mens die aanbieding van die eerste George Tens-rugbyfees verlede naweek op Outeniquapark in 'n neutedop opsom.
Die pawiljoene was beslis nie volgepak nie en die welkome reën Sondag het die rugbygeesdrif gedemp, maar die fondasie is gelê om die George Tens as een van die grootste en belangrikste sportbyeenkomste op die Suid-Kaapse sportkalender te vestig. Van hier af kan dit net beter gaan.
Die meeste van die 32 spanne wat in aksie was, het ná afloop van die toernooi aangedui dat hulle weer aanstaande jaar gaan deelneem. Die borge, besighede en sakelui was eweneens in hul noppies en tevrede dat die George Tens die potensiaal het om goeie dividende op hul beleggings te lewer.
Hulle kom ook weer terug.
Natuurlik was daar 'n gemor en die alomteenwoordigende kritiek oor prysgeld en die partydigheid van sekere betrokkenes, maar dit verdien nie enige kommentaar nie.
Ondanks die uitdagings, die onverdiende en onregverdige twissugtigheid en chroniese kleinlikheid van sommige inwoners, kan die organiseerders hulself op die skouer klop. Met die beperkte tyd tot hul beskikking om die logge skip vlot te kry, het hulle sowaar die spreekwoordelike haas uit die hoed getrek. Knap gedaan.
Die Garden Route Eagles wat verlede Sondag die eerste George Tens-rugbytoernooi gewen het nadat hulle die Titans in die eindstryd met 10-5 geklop het. Foto's: Hugo Redelinghuys
Ignatius van der Merwe, hooforganiseerder van die George Tens, het aan die George Herald gesê hy en sy medehelpers is tevrede met die afloop van die eerste toernooi.
"Ja, ons het beter ondersteuning van die inwoners uit die Suid-Kaap verwag, maar ons glo die grondslag is nou gelê om die George Tens binne die volgende twee jaar uit te bou tot die grootste diamant in die Suid-Kaap se sportkroon.
"Ons gaan beslis meer buitemense uit ander stede en dorpe nader om betrokke te raak. Natuurlik sal ons voorkeur gee aan ons plaaslike sakelui en borge, maar op ons doenlys is beslis om universiteite en technikons te nader om aan die toernooi deel te neem. Ons was onder groot tyddruk, maar ons sal aanstaande jaar baie vroeër aan die werk spring."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'