GEORGE RUGBYNUUS - Moenie George te gou afskryf nie. Al kon dié nuweling in die MicFin Premierliga-klubrugbykompetisie tot dusver net een uit twee wedstryde wen, het hulle Evergreens verlede Saterdag op Outeniquapark laat klippe kou voordat die Pacaltsdorpers uiteindelik naelskraap met 27-25 die oorhand kon kry.
Met nog tien minute oor was George nog met 25-17 voor, maar toe het Evergreens sy spelpeil gelig en met 'n grootste poging twee keer gaan druk om 'n oorwinning uit die kake van 'n nederlaag te pluk.
Die terugkeer van George se twee losvoorspelers, Francois Kemp en JJ du Toit, het toe wel 'n groot verskil gemaak. George het puik vertoon in die vaste fasette en met stewige skrumwerk vir Evergreens laat sweet.
Dis juis van twee skrums af waar George 'n goeie skouer kon inslaan om twee keer te gaan druk.
Beide Kemp en Du Toit het uitgetroon.
Danville Campher, hoofafrigter van Evergreens, het aan die George Herald gesê George is beslis beter as wat hul tellings tot dusver weerspieël en dat hulle nie onderskat moet word nie. Hoewel Evergreens nou die voortou geneem het op die puntelys met 15 punte ná drie wedstryde, sê Campher dis in dié stadium vir hom irrelevant. "Ons fokus is op spanbou.
Ons het net vier senior spelers van verlede jaar in die eerste span. Ons het 'n jongklomp ingespan en die gemiddelde ouderdom is maar 22 jaar. Ons moet die jongklomp nou in 'n hegte eenheid saamsnoer voordat ons kan begin dink aan die uitspeelrondes." Campher was vol of vir die karakter wat sy span getoon het om die agterstand in 'n oorwinning te omskep.
"Toe dit saak gemaak het, het die jongklomp, wat maar geneig is om fokus te verloor, koelkop gebly en hul speltempo gelig om dié taai ene deur te trek. Maar alle lof aan George."
Hy het ook die spel van sy 22-jarige loskakel, Winrey Stoffels, uitgesonder. Crusaders het verras met 'n groot oorwinning van 47-7 oor Bridgton terwyl Progress op sy tuisveld maklik met Heidelberg met 34-3 afgereken het.
Barbarians het Jacquars met 50-15 geklop en Groot-Brak vir Silver Stars met 52-16.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'