RUGBYNUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag voor 'n volgepakte skare by die Bridgton-sportterrein net-net met 17 - 16 vasgeval teen Evergreens in 'n SWD Super A-ligawedstryd.
Dié wedstryd is vooraf geklassifiseer as die stryd tussen die twee voorlopers op die punteleer en die wedstryd het sy reputasie behoorlik gestand gedoen.
Net voor die aanvang van die eerste helfte het Bridgton se bestuur die nr. 7-trui van Boutros 'Boelie' May aan sy familie oorhandig. May (29) is onlangs ter ruste gelê na 'n mesvoorval wat sy jong lewe geëis het. Volgens Bridgton-rugbyklub se voorsitter, Phillip Goliath, is hierdie trui-oorhandig in 'n gebaar van eer, respek en omgee vir hul geliefde speler.
Die kort seremonie het weer ou wonde oopgekrap met menigde trane wat vrylik by die stadion gevloei het.
Net voor die aanvang van die eerste helfte het Bridgton se bestuur die nr. 7-trui van Boutros 'Boelie' May aan sy familie oorhandig.
Eerste helfte
Waar Bridgton verlede week teen Progress van die eerste minuut af aan die brand was, wou dit voorkom of daar lood aan die spelers se enkels vasgebind was, hulle kon net nie aan die gang kom nie. Of die verskynsel verband hou met die emosiebelaaide seremonie voor die wedstryd is enige een se raaiskoot, maar dit het hulle binne 'n bestek van 15 minute met 14 - 0 teruggesit via twee vinnige verdoelde drieë deur Evergreens.
Na 'n paar saamgeflanste fases kon die tuisspan ' n strafskop afdwing wat deur die losskakel, Craig Ellis, oorgeklits is. Die maroen truie het stelselmatig weer hul vertroue teruggekry met die atletiese slot, Ayden Pretorius, aan die voorpunt. Pretorius het soos 'n wafferse vleuel sowat sewe tree binne Evergreens se helfte die bal teen die verloop van spel ongeërg opgepik, twee verdedigers afgestamp en vir 'n vale genael na die doellyn om Bridgton se eerste drie te druk. Die verdoeling was mis en die telling 14 - 8. Net voor die tweede helfte het die losskakel, Craig Ellis, nog 'n strafskop oorgeskop wat Bridgton in die wedstryd gehou het. Telling was nou 14 - 11.
Tweede helfte
Bridgton het die eerste hou in die tweede helfte ingekry met 'n stukkie briljante individuele spel deur hul blitsige skrumskakel, Willem Japhta. Die einste Japhta het 10 m voor Evergreens se doellyn 'n standaard tikskoppie agter die verdediging geplaas, maar sy verbysterende spoed het sy direkte teenstander heeltemal onkant betrap. Groot was dié verdediger se verbasing toe hy sien dat Japhta reeds die drie gedruk het terwyl hy nog omgedraai het om die bal te volg - doelskop onverdoeld. Telling 16 - 14.
Bridgton het hierna talle kanse gehad om Evergreens finaal te begrawe, maar hantering en foute in die lynstane het die tuisspan van broodnodige balbesit en gebiedsvoordeel beroof. Daarenteen het Evergreens die meeste gemaak van hul besit en behoorlik kamp in Bridgton se helfte opgeslaan. Net as dit wou lyk of Bridgton uit hul wurggreep wou ontsnap, het Evergreens hulle maar net weer teruggepen. Die besoekers het kort voor die einde 'n strafskop verdoel en sou die wedstryd 17 - 16 wen, maar Bridgton sal diep binne hulself weet dat hulle hierdie een verbou het.
Nietemin is daar belowende tekens vir die tuisspan se jongspan en kan daar net opgebou en verbeter word.
Een ding is vir seker, alle spanne in die Super A-liga dra kennis van Bridgton se slaankrag vanjaar.
Die stut, Wesley le Roux, storm op sy teenstander af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’