GEORGE NUUS - As die SWD Arende die res van die seisoen speel soos hulle Vrydag 22 Maart teen die Pumas in die tweede helfte gespeel het, voorspel dit niks goed vir hul teenstanders nie.
Hulle het wel 22 - 43 teen die Pumas verloor in hul eerste SA Bekerwedstryd van die seisoen op Outeniquapark, maar hulle kan steeds met hul koppe omhoog loop.
Waar die Pumas in die eerste helfte die botoon gevoer het, was dit 'n ander storie in die tweede helfte.
Die Arende het wel goed begin, maar die Pumas het later hul stempel in die eerste helfte van die wedstryd begin afdruk.
In die eerste helfte het die besoekers vyf keer agter die doellyn gaan kuier en die Arende het net met 'n strafskop geslaag. Teen rustyd was die Arende 3 - 31 agter.
In die tweede helfte het dit egter gelyk of dit 'n ander Arende-span was.
Die Arende het meer ritme gehad en 'n paar keer die tuisskare op hul voete gehad. Mpho Ntsane het twee skitterende drieë gedruk en sy spanmaat Liko Ndiyalwa het ook agter die doellyn gaan kuier en die skare rasend gehad. Toeskouers wat gehoop het om spelers te sien wat drieë gaan druk, was uiteindelik nie teleurgesteld nie.
Foto: Eugene Gunning
Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, het na die wedstryd aan George Herald gesê die eerste helfte was goed uit die oogpunt van sy span gesien. "Die tweede helfte was nie so goed nie. Ek dink ons het hulle laat terugkom in die wedstryd," het hy bygevoeg.
Stonehouse het gesê die Arende het 'n goeie span en speel goeie rugby. Die Pumas se volgende wedstryd is die komende naweek teen die OP Olifante.
Janneman Stander, kaptein van die Arende, het gesê sy span het gehou by die strukture en benadruk dat hulle nog bietjie skaafwerk nodig het. Dit was dit eerste wedstryd en die span sal teruggaan tekenbord toe. Die span berei nou voor vir die volgende wedstryd teen Grens wat die komende naweek plaasvind. Dis 'n wegwedstryd.
Die span sal elke wedstryd trappie vir trappie klim. "Die manne moet nog aan mekaar gewoond raak. Dit kan net beter gaan. As ons ons foute kan regmaak, kan ons die wedstryd vat."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’