Alhoewel ‘n feestelike atmosfeer in tipies Brandhouse tradisie geheers het, was kompetisie straf en het verskeie wedstryde rolbal van hoogstaande gehalte opgelewer.
Verskeie spanne het teen alle verwagting in vir verrassende resultate gesorg.
Goussard Prokureurs, Kirsten en Tulleken Vervoer, Buitendag Rall en die Houtkewers verdien spesiale vermelding. In hul eerste Brandhouse toernooi het Goussard Prokureurs met 13-5 teen FNB gesëevier terwyl Kirsten en Tulleken, wat in die vorige Brandhouse liga met die laaste plek tevrede moes wees, hul tweede agtereenvolgende oorwinning behaal het. Nadat hulle in die eerste ronde naelskraaps met 9-8 teen Digifusion gewen het, was dit dié keer die Greenies wat met 10-14 die knie moes buig.
In die proses het Kirsten en Tulleken na die sewende algehele posisie opgeskuif.
Dit was egter Buitendag Rall wat vir die grootste sprong op die punteleer gesorg het. Met hul oorwinning van 17-4 teen Lynn Schroeder BMW het hulle nie net hul
onoorwonne status behou nie, maar ook van die 22ste na die elfde algehele posisie opgeskuif.
Die Houtkewers, wat in die eerste ronde met 4-25 deur die ABSA Privateers verne-der is, was hierdie keer met 16-9 aan die wenkant teen die Abacus E-Lemonators.
Dit was ook die einste ABSA Privateers wat hierdie keer met ‘n nederlaag van 5-15 teen die Vintage Rollers tevrede moes wees.
Bo en behalwe die Vintage Rollers, het nog ‘n vorige Brandhouse kampioen in Nels Meubels ook sy aanslag op nog ‘n Brandhouse titel met ‘n oortuigende oorwinning van 22-3 teen Aurecon begin.
Die Forgotten Ones beklee tans die eerste posisie op die algehele punteleer nadat hulle in ‘n mededingende wedstryd ‘n agterstand van elf punte uitgewis het om eindelik met 15-11 as die oorwinnars teen DTM Nissan uit die stryd te tree.
Die Vintage Rollers is tweede geplaas met Nels Meubels derde en die CA Tean in die vierde plek.
Die derde ronde van die toernooi vind op Donderdag, 5 Mei, by die Outeniqua Rolbalklub in Airway Road, Heatherpark plaas. Spel begin om 18:00 en almal is welkom.
_jpg(6).jpg)
Hierdie span van DTM Nissan beklee tans die 14de algehele posisie.
_jpg(2).jpg)
Goussard Prokureurs se span wat die sesde algehele plek ingeneem het.