GEORGE NUUS - Twee broers van hier, Calen van Zyl (18) en sy kleinboet Jordan (15), het hulself oortref tydens die nasionale kampioenskappe vir gewigoptel.
The Rhino Powerlifting Club se nasionale kompetisie het verlede Saterdag 25 September in Menlopark, Pretoria, plaasgevind.
Beide broers het hulle onderskeie afdelings gewen en Jordan het twee nasionale rekords opgestel - 120 kg hurksit (squat) en 70 kg gewigopstoot op 'n bankie (bench press).
Vir die kategorie dooiegewigoptel (deadlift) kon Jordan 120 kg optel. Hy neem deel in die kategorie vir onder 90 kg.
Calen se prestasie in die onder 100 kg kategorie is as volg: 220 kg hurksit, 110 kg gewigopstoot op 'n bankie en 240 kg dooiegewigoptel.
Jordan van Zyl (15) gee 'n breë glimlag met ontvangs van sy toekenning en medalje van Louis Dunn, die president van Rhino Powerlifting Club.
Calen van Zyl (18) ontvang sy toekenning en medalje van Louis Dunn, die president van Rhino Powerlifting Club.
"Dit was een van die lekkerste ervaringe ooit!" So het Jordan gesê na die afloop van die naweek se opwinding. "Ek het nog nooit sulke sportmanskap in enige ander sport gesien nie. Dit was uitstekend, die manier waarop almal mekaar ondersteun. Ek het 'n effense teleurstelling gehad met 'n rugbesering sowat twee weke gelede, so ek kon nie my alles gee op die dag nie. Maar 'n mens leer om selfvertroue op te bou, en ek voel positief - ek is die toekoms van dié sport!"
Vir Calen was die ondervinding ongelooflik: "Die ouer lifters, die crowd, die coaches - dit was wonderlik om deel te wees van hierdie ervaring."
Hierdie twee talentvolle jong sportmanne van Hoërskool Outeniqua kon deelneem danksy borgskap en ondersteuning van die gemeenskap. Die broers bedank ieder en elk wat hulle gehelp het om deelname aan die kampioenskap moontlik te maak.
Jordan van Zyl (15) lyk op sy gemak tydens die nasionale kampioenskappe.
In aksie: Calen van Zyl (18) tydens die nasionale kampioenskappe in gewigoptel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'