Soos gewoonlik sluit die veld van 28 spanne weer heelwat eerste inskrywings in. Margot Swiss, Apollo, Laerskool George-Suid, Die Barnards en Finovo Accounting sal in hul eerste Brandhouse liga meeding terwyl die Conti Rof-Rollers na ‘n lang afwesigheid na die liga terugkeer.
In die afwesigheid van Nels Meubels, huidige Brandhouse kampioene, dreig hier-die liga om vir heelwat opwinding oor die volgende ses weke te sorg.
Kirsten en Tulleken Vervoer, op 15 wedstrydpunte, gee die pas na die eerste ronde aan nadat hulle verspot-maklik met 20-1 met The Rolling Stones, nog ‘n eerste inskrywing, afgereken het.
Die borgspan van Brandhouse blaas egter in Kirsten en Tulleken se nek en is met 14 punte in ‘n welverdiende tweede posisie. Hulle het op hul beurt met 25-3 teen die Transporters gesëevier.
Beide Goussard Prokureurs en die Greenies spog met 13 punte na die eerste ronde.
Goussard het met 18-3 teen Meyer Otto Agri die botoon gevoer terwyl die Greenies in ‘n verrassende wedstryd met 12-3 te sterk was vir Werner Fourie Oogkundiges. Twee eerste inskrywings, Margot Swiss en Apollo, het tydens die eerste ronde beïndruk.
Margot Swiss was met 16- 6 te sterk vir Vital Force terwyl Apollo met 15-6 teen Getting There geseëvier het.
Slegs vyf punte skei die eerste tien spanne na die eerste ronde en daar word met afwagting uitgesien na die tweede ronde van die liga wat vanaand (Donderdag) om 18:00 by die Outeniqua Rolbalklub plaasvind.
Kirsten en Tulleken kom in ‘n interessante stryd teen Brandhouse te staan, Goussard Prokureurs sê vir die Greenies die stryd aan terwyl Eden Wealth en Secunda Sales in nog ‘n belangrike wedstryd kragte sal meet.
(4).jpg)
Roelof van Dolderen (middel) ontvang sy prys van Brandhouse se Marius Esterhuizen en Uli Gerber.