Die snerpend koue toestande kon nie die entoesiasme van die 28 deelnemende spanne blus nie en soos gewoonlik het die aand nie net vir kwaliteit rolbal gesorg nie, maar is verskeie verassings opgelewer.
In waarskynlik een van die beste terugvegpogings tot nog toe kon die span van De Ja Vu net nie daarin slaag om hul onoorwonne status in die toernooi te behou nie. Nadat hulle vinnig met 0-10 teen Nel’s Meubels 2 agtergeloop het, het hulle verbete teruggeveg om hul posisie as voorloper in die toernooi te behou.
Hulle moes egter met ‘n nederlaag van 8-11 tevrede wees en het in die proses tot die algehele vyfde plek teruggesak.
Nels Meubels 2 het in die proses tot die tweede algehele posisie (52 wed-strydpunte) opgeskuif en spog met die onderskeiding dat hulle tans die enigste onoorwonne span in die kompetisie is.
Die Vintage Rollers, huidige Brandhouse-kampioene, het danksy ‘n oorwinning van 12-6 teen die Happy Go Lucky’s na die top-posisie opgeskuif terwyl ‘n vroëe voorloper in die reeks, Standard Bank, homself in die derde posisie op 51 wedstrydpunte bevind. Standard Bank het vir Brandhouse 2 met 11-7 geklop. Brandhouse 2 het gevolglik sy tweede agtereenvolgende nederlaag gely en tot die sesde posisie teruggeval.
Ander spanne wat beïndruk het, is Just Letting wat hul tweede agtereenvolgende oorwinning in die reeks behaal het toe hulle gemaklik met 19-4 teen die Incredirollers geseëvier het, asook Hino’s 1 wat hul eerste oorwinning behaal het. Hulle het die E-lemon-ators met 18-12 geklop.
Wanneer die sesde en finale ronde in die reeks vanaand om sesuur by die Oute-niqua Rolbalklub ‘n aanvang neem, sal enigeen van die topses-spanne in die kompetisie hulleself ‘n billike kans gun om as die Brandhouse-kampioene gekroon te word.
Slegs drie wedstrydpunte skei die boonste ses spanne in die kompetisie en soos in die verlede sal die kampioene eers in die finale ronde bepaal word.
In waarskynlik die belangrikste wed-stryd van die aand sal die Vintage Rollers die vernuf en temperament van die onoorwonne Nels Meubels 2 behoorlik op die proef stel in ‘n poging om hul tweede agtereenvolgende Brandhouse-titel in te palm.
Standard Bank kom teen Nels Meubels 1 te staan terwyl die wedstryd tussen Brandhouse 2 en De Ja Vu ook heelwat belangstelling uitlok.
Die E-lemon-ators (in die 27e posisie) kom teen Hino’s 2 (28e) te staan. Geen-een van hierdie spanne kon tot nou toe ‘n wedstryd wen nie en sal graag die toernooi op ‘n hoogtepunt met ‘n oorwinning wil afsluit.
Almal word uitgenooi om vanaand se finale ronde te ondersteun. Die Outeniqua Rolbalklub is in Airway Road, Heatherpark geleë.
Op Vrydagaand, 27 Augustus, sal sowat 120 rolballers, beamptes en gaste die toernooi op ‘n hoog-tepunt met ‘n braai-vleis en dans by die klub afsluit.
_jpg.jpg)
Die span van CMB wat vanaand teen die Incredirollers te staan kom.
Just Letting, wat hul tweede agtereenvolgende oorwinning behaal het, ná die wedstyd afgeneem.