Hulle het die skare behoorlik op hul voete gehad met uiters spannende wedrenne in die gemodifiseerde 2.1 klas.
Dié drie het die ander jaers geen kans gegun nie en het in al die uitdunne en die eindrondte die eerste drie posisies ingeneem.
Koen het waarskynlik verdien om die eindrondte te wen, maar Van Rensburg en Van Rooyen kon net sowel met die louere weggestap het. Van Rooyen het soos gewoonlik ‘n uitstekende wegspring met sy groen VW Kewer gehad, maar Koen en Van Rensburg het ander planne gehad. Eers het van Rensburg die voortou oorgeneem voordat Koen met ‘n meesterskuif verbygeglip het en dit reggekry het om oor die laaste paar rondtes die ander manne agter hom te hou.
Van Rensburg was tweede met Van Rooyen derde.
Van Rensburg het seker gemaak dat sy naam later die aand opgeduik het as ‘n kandidaat vir die Renjaer van die Dag toe hy die Sestien-sestigklas gewen het. Jurie Blom het homself baie goed laat geld en vir Van Rensburg onder geweldige druk geplaas, maar moes met die tweede plek tevrede wees. Christopher Burisch het derde klaargemaak en saam met Bertie du Plessis en André Janse van Vuuren het hulle definitief hulle deel bygedra om vir ‘n opwindende eindrondte te sorg.
Nog ‘n jaer wat Renjaer van die Dag kwaliteite openbaar het, is Burger van der Westhuizen wat die Ontwikkelingsklas heeltemal oorheers het deur al die uitdunne asook die eindrondte te wen. Nadia van Rensburg en Julian van Rensburg moes tevrede wees met die tweede en derde plekke onderskeidelik met Jaco Heathfield so byna in ‘n podiumposisie.
Johan van Rensburg van Victory Raceway het die Hitstjorklas ingepalm, maar Graham Ferreira het het so byna vir ‘n verrassing gesorg in sy geleende 1600 Ford Laser.
Peet van der Merwe, Lionel Treurnicht en Leon de Kock het almal meganiese of strukturele frustrasies ervaar en dit het die deur oopgemaak vir Michael Herr om die derde plek te verower. De Kock het later die aand die trofee vir die mooiste motor ontvang.
Treurnicht was die wenner van die Slegte Geluk-trofee.
Herman Neethling het seker gemaak dat hy as die Renjaer van die Dag aangewys word deur sy groot Chev met behendigheid in die Klassieke V8 wedrenne te bestuur.
Leon Fourie maak dit nou ‘n gewoonte om in die eerste uitdun, wanneer die baan nog baie nat is, skoon onder die ander manne uit te ry.
Anton Pretorius se kragtige Skyline was bestendig en daarmee het hy seker gemaak dat hy die tweede plek verower. Morné van Rensburg is besig om sy beste vorm te herwin.
In die gemodifiseerde V8 klas het Bennie Greyling oorheers en dit vir die ander jaers gelos om te baklei vir die mindere posisies. Larry Smith het in die tweede plek geëindig met Daan de Waal derde.
Saterdagaand se wedren val saam met die Oumotorskou. Die ovaalbaanrenjaers het belowe om aan die entoesiaste van regoor die land en wat tradisioneel waarskynlik aan ‘n bietjie minder spoed gewoond is, sakke vol opwinding en herinnerings te verskaf!
Die wedrenne begin om 18:00 Saterdagaand terwyl die hekke reeds 13:00 oopmaak. Toegang is R40 vir volwassenes en R20 vir kinders. Daar is heelwat kosstalletjies rondom die baan, maar toeskouers is welkom om hul eie vuurtjie aan te steek. Vir enige navrae kan Karin Pick by 072 284 5866 gekontak word.

Neels van Rooyen se Kewer wag op inspeksie.