Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Een van die bekendste mense in Suid-Afrikaanse- en wêreldrugby, Heyneke Meyer het sy gewig agter 'n nuwe sportfees vir George ingegooi wat die George Tens-rugbytoernooi insluit.
Die fees sal aanstaande jaar in Desember aangebied word.
Ofskoon rugby die hoofdis sal wees, sal ander sport soos netbal, rolbal en gholf waarskynlik ook deel van die fees wees. Daar word ook beplan om 'n musiekfees saam met dit te hou. Die geleentheid sal hoofsaaklik by Outeniquapark aangebied word en die presiese datums sal nog gefinaliseer word. Dit sal nie oorvleuel met die internasionale sewesrugbytoernooi in Kaapstad nie.
Meyer, 'n voormalige afrigter van die Springbokke, wat ook sy merk internasionaal gemaak het en nou in die streek woon, is saam met die George-munisipaliteit en Ig van der Merwe betrokke by reëlings vir die 2021-fees.
Van der Merwe was betrokke by die eerste George Tens-rugbyfees wat verlede jaar gehou is, maar vanjaar as gevolg van Covid-19 nie kon plaasvind nie.
Die jongste goeie nuus hier in die stuiptrekkings van die uitdagende 2020, is deur Meyer, Van der Merwe en Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste van die George-stadsraad bevestig. Leon van Wyk, George-burgemeester, het ook sy steun aan die fees gegee.
Meyer het aan George Herald gesê die plan is om dit die grootste Tens-rugbytoernooi in Suid-Afrika te maak.
Dit sal 'n sport/ kultuurfees wees en saans sal musiekgeleenthede aangebied word. Die fees moet 'n sosiale aanslag hê. Hy het sy afrigtersloopbaan hier begin en hy wil graag iets terugploeg. Hy wil ook betrokke raak by skolesport. Hy glo hier behoort 'n sterk Curriebekerspan te wees.
Na die sewesrugbytoernooi wat in die verlede in George aangebied is, is daar 'n gaping. Hy is baie opgewonde oor die nuwe fees. Volgens hom neem dit gewoonlik drie jaar om so-iets behoorlik te vestig.
Dit is nie onmoontlik dat hokkie ook later deel sal vorm van die fees nie.
Wessels het gesê die munisipaliteit sal logistieke hulp verskaf en help om dit van die grond af te kry. Dit sal ook 'n geleentheid wees om toerisme in die gebied te bemark. Die gemeenskap sal baat daarby en dit is byvoorbeeld moontlik dat afrigtingsklinieke tydens die fees aangebied sal word. Die munisipaliteit is ten gunste van sportontwikkeling.
Van der Merwe het gesê Meyer se betrokkenheid is 'n groot inspuiting. Die plan is om dit Suid-Afrika se grootste sportfees te maak. Die plan is ook om dit te koppel aan 'n hoofborg.
Van Wyk het gesê Meyer se kennis en ondervinding sal beteken dat sportgeleenthede uitgebou kan word. Dit sal toerisme en uiteindelik die hele ekonomie bevorder. Die geleentheid is goeie nuus vir George.
Kyk video's hieronder.
Van links is Ig van der Merwe, (organiseerder van die George Tens-rugbytoernooi), Anton Leonard (voormalige Spiringbokrugbyspeler en kaptein van die Blou Bulle), Heyneke Meyer (voormalige afrigter van onder meer die Springbokrugbyspan) en Dirk Wessels (burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste van die George stadsraad). Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'