Dit is die onoorwonne Goons wat eerste beïndruk het met ‘n prag-oorwinning van 12-9 oor Kirsten en Tulleken Vervoer.
Met hierdie oorwinning het hulle nie net na die eerste plek (35 wedstrydpunte) opgeskuif nie, maar ook vir Kirsten en Tulleken ‘n gevoelige slag toegedien.
Dit was hulle eerste nederlaag in die kompetisie en in die proses het hulle na die vyfde algehele plek teruggesak.
Nog twee onoorwonne spanne is onderskeidelik tweede en derde geplaas. MSec Sekuriteit se oorwinning van 13-6 teen LI’Cas&Wyn het sy puntetotaal na 34 opgestoot en is op een punt na tweede geplaas terwyl Goussard Prokureurs op 33 hulself in die derde plek bevind. Hulle was met 15-11 net te goed vir Aces High, wat na die sewende posisie teruggesak het.
Drie spanne, die Vintage Rollers, Kirsten en Tulle-ken, en die borg-span van Brandhouse het tans 30 punte, slegs vyf punte agter die Goons.
Enigeen van hierdie spanne kan nog die Brandhouse-titel buit en het met goeie spel ‘n waar-skuwing aan die top spanne gerig.
Assupol, die Pancakes en Prostar het almal hul eerste oorwinnings in die liga behaal.
Assupol het Aurecon met 14-7 verslaan terwyl die Pancakes in ‘n goed gebalanseerde stryd met 15-12 te goed vir die Bosnimfies was.
Prostar het op sy beurt gemaklik met 17-6 teen Secunda Sales geseëvier.
Vanaand (Donderdag) word uitgesien na veral die stryd tussen die twee topspanne wanneer Die Goons vir MSec Sekuriteit die stryd aansê.
Die voorlaaste, sowel as finale rondes van hierdie liga vind onderskeidelik volgende week op Dinsdag en Donderdag by die Outeniqua Rolbalklub plaas.
Spel begin om 18:00.
(5).jpg)
Kirsten en Tulleken Vervoer se Leon Langeveldt (regs) ontvang 'n Brandhouse trekking prys.