GEORGE NUUS - Twee broers, beide leerders aan Hoërskool Outeniqua, oefen deesdae met trekkerbande en skrootmetaal in hul agterplaas om fiks te bly vir die Rhino Powerlifting nasionale kampioenskappe in gewigoptel wat einde September in Pretoria plaasvind.
Calen van Zyl (18), 'n matrikulant, en sy jonger broer Jordan van Zyl (14), het onlangs tydens die kwalifiserende kompetisie in Gqeberha hul onderskeie afdelings gewen. Altesaam 18 deelnemers het kragte gemeet.
Die broers het gesamentlik meer as 800 kg in drie afdelings opgetel: Calen (215 kg squat, 225 kg deadlift, 100 kg bench) vir 'n totaal van 540 kg, terwyl sy jonger broer Jordan 'n totaal van 290 kg opgetel het (110 kg squat, 120 kg deadlift, 60 kg bench).
Beide Calen en Jordan se belangstelling in díé sportsoort is te danke aan hul pa, pastoor Deon van Zyl. Calen het sowat twee jaar gelede saam met sy pa by Virgin Active begin oefen, nadat hy verskeie rugbybeserings oor 'n aantal jare opgedoen het. Jordan het aan die begin van die jaar by hulle aangesluit.
"Met die huidige inperking moet ons egter tuis oefen, want die gimnasium is nie nou oop vir kliënte nie," het Deon van Zyl gesê. "Dis 'n voorreg om saam met my seuns te oefen. Ons spandeer sowat twee uur smiddae aan ons oefenroetine."
Calen het gesê dit het hom geleer dat jy net dit wat jy insit sal uitkry: "Jy is net afhanklik van hoe goed en hoe hard jy werk. Jy is eintlik jou eie kompetisie." Kleinboet Jordan raai ander kinders aan om dit ook te doen: "Dit verg baie dissipline, maar dis die moeite werd. Daar is baie ondersteuning onder mekaar in die sport."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'